Hendrik Schörbeck was ’n legende in Langkloof. By my geboorte was hy reeds oorlede, maar dit het nie verhinder dat al die stories aangaande hom by my uitgekom het nie. Ek wil nou nie voorgee dat Schörbeck ’n moderne Nostradamus was nie, maar van sy voorspellings is in my tyd bewaarheid. Eric Rosenthal het al by ’n paar geleenthede oor hom geskryf en staaltjies oor hom is ook oor die radio vertel. Dis net jammer dat ons vandag so min van die man weet. Sover ons weet, was hy ’n Duitser en hy het mistieke talente gehad. Van al die stories wat oor hom vertel word, mag driekwart versinsels wees, maar die res kan moontlik waar wees. In my kleintyd het die mense reeds vertel dat Schörbeck die Tweeds Wêreldoorlog korrek voorspel het en dat hy ook sou gesê het dat die Kromrivier se water eendag sou opdraand loop. Vir alle praktiese doeleindes is dit mos ’n saak van onmoontlikheid. In later jare is die Churchillmeer op die Kromrivier gebou om Port Elizabeth van water te voorsien. Die reisiger wat vandag van Humansdorp af Baai toe ry, sal die reusepype aan die regterkant van die pad sien wat bo-oor ’n hoë heuwel loop, net daar waar jy die Gamtoosrivier oorsteek. Dis Kromrivier se water op pad Baai toe. Dis nou vir almal duidelik wat Schörbeck destyds bedoel het.
Ek sal hom nou maar op die naam noem waaronder hy in Langkloof bekend was – Spoorbek. Daar word ongelooflike stories oor die man vertel. Hy het nie in Langkloof gebly nie, maar in die Kromriviervallei na Humansdorp se kant toe. Hy het egter baie rondgeloop en het dikwels in Langkloof gekom, veral by ’n sekere man op Misgund met wie hy goed bevriend was. Spoorbek het altyd sy huis wawydoop laat staan as hy vir ’n paar dae weggaan. Terwyl hy by sy vriende op Misgund is, sê hy een oggend hy sal moet huis toe gaan, want daar staan al twee dae lank ’n swartman in sy huis en hy sal hom moet gaan los. By ’n ander geleentheid het hy by ’n boer oorgeslaap. Die volgende oggend kla die man by Spoorbek dat een van sy werkers gedurende die nag gedros het en ’n klomp van die ander werkers se goed gesteel het. Spoorbek het die boer gevra of hy iets het wat aan die droster behoort het. In die droster se huis het hulle ’n ou verslete skoen van hom gekry. Spoorbek neem die flenterskoen, gaan skroef dit in die skroef vas, neem ’n lat en begin die skoen slaan. ’n Ruk later kom die droster uitasem en doodmoeg daar aangehardloop en pleit by Spoorbek om hom te los. Spoorbek beveel hom om eers al die gesteelde goed te gaan haal. Hy het die goed nog dieselfde dag teruggebring en toe eers het Spoorbek die skoen uit die skroef gehaal.
Gedurende Desember 1951 kampeer ek vir ’n paar dae net daar waar Kromrivier se water in die Churchillmeer inloop. Dis ’n pragtige stil omgewing. Ou Jan Bokwa is by my en ons vang palings. Dit wemel van likkewane en otters. Die tweesitplek-Studebaker waarmee ek ry, het ’n geweldige groot bagasiebak waarin ek onder meer kissies perskes, pruime en appelkose het om uit te deel aan die mense met wie ek in aanraking kom, want Humansdorp het nie veel vrugte nie. Langs die rivier skryf ek ’n brief aan my noi en gaan pos dit op Two Streams, ’n poskantoortjie daar naby. My brood is min en ek vra die posmeester se vrou of ek ’n brood by haar kan koop. Sy sê ek moet net ’n kwartier wag, die brood is nog in die oond. Die man wil weet waar ek kampeer en ek beduie hom.
“O,” sê hy, “dis op Spoorbekserf,” en daar begin hy oor Spoorbek gesels. Hy vertel dat die Boere-rebelle glo heelwat huise in daardie geweste gedurende die Anglo-Boere-oorlog afgebrand het en hy vra of ek van die rietdak gehoor het wat Spoorbek “bespreek” het. Daardie dak sou blykbaar nooit brand nie. Ek antwoord bevestigend en hy vra of ek graag die dak wil sien. Hy neem my na ’n ou murasie. Langs die murasie lê ’n rietdak wat eens op ’n tyd bo-op die murasie was. Dis glo die dak wat Spoorbek “bespreek” het, nog net so heel soos toe dit op die huis was. Hy gaan haal ’n gelling petrol, gooi die dak nat en steek dit aan die brand. Ons het ’n ent weggestaan en gekyk hoe die petrol uitbrand. Die dak het ongeskonde bly lê.
Spoorbek lê in daardie distrik begrawe. Die storie lui dat daar twee dik boeke saam met hom in die kis gesit is. Hy het die plaaseienaar laat belowe dat hy sou toesien dat grafskenders nie die boeke sou kom opgrawe nie.