Die vroumense en meisiekinders het hard gewerk. Ek het daardie tyd al begin twyfel of hulle nou werklik die swakkere vat is. Vir my het dit in elk geval nie so gelyk nie. As ’n mens in ag neem dat daardie dae se vrouens dinge gedoen het waarvan deesdae se vrouens nie eers meer weet nie, dan is dit ’n wonder dat hulle nog kans gesien het om in die store, en ja, selfs op die lande ook te werk. Ek praat van pligte soos brood bak, koffie brand, lap en stop, klere maak, vrugte droog en seep kook – alles dinge waarvan die hedendaagse vrou maar bloedweinig weet. Hulle het hul werkprogramme so ingerig dat hulle die meeste van die tyd hul mans in die namiddae kon help. Hulle het die koeie gemelk en versorg en as die mans die dag ver van die huis gewerk het, het hulle die werk in die stal ook afgehandel: hawer gekerf vir die perde, kooigoed oopgegooi en alles in orde gekry voordat die mans donker by die huis gekom het. Sommige van die vrouens en meisiekinders het werklikwaar harde manspligte verrig.
Oom Naas Boland het my een aand vertel hoe baie hy in sy jongdae te perd vir die meisies gaan kuier het. So vertel hy, het hy een naweek by ’n gesin oorgebly waar drie asters was, die een mooier as die ander. Die ou oom nader hom toe die Saterdag en vra of die nefie hom dan nie ’n paar dae met die koringsny kon help nie. Oom Naas het nie ’n boerdery gehad nie, het op die dorp gewoon en hy belowe om die oom ’n week te help. Die Maandagoggend toe hulle land toe stap, is die drie asters ook by, elkeen met ’n sekel. Toe hy vra waarheen hulle op pad is, sê een van hulle: “Nefie, ons is nie net hier om te vry nie, ons werk ook.
Hy vra toe: “Wil julle vir my sê julle gaan help koring sny?”
Sy sê: “Dis waarvoor ons die sekels het.”
Hy sê hy kon nie help om te lag nie, maar dit het hom later suur bekom.
Die oom vertel: “Toe ons vakke vat, toe vat hulle elkeen hulle vak saam met die mans. Solank hulle spiere nog nie lekker los was nie, het dit nog gegaan, maar na ontbyt sien ek daar’s nou ’n ander ritme in die meisies se bewegings en dit wil publiek lyk of hulle ’n groot hongerte het vir die koringhalms. Hoe ek ook al raakvat en regvat en my teësit, ek kan maar net nie van hulle wegkom nie. En hier van elfuur se kant voel ek ek kan nie vinniger nie. Dis toe wat die meisiekinders so duim vir duim van my af wegsny. As ek opkyk vorentoe, sien ek net wit en blou onderklere voor my. Toe ek my laaste vak van die dag vat, toe trek die meisiekinders al twintig treë ver met hulle vak. Hulle pa het vooraf gesê elke man moet sy vak uitsny voor ons uitval. Toe hulle hul vakke uitgesny het, het hulle net so ’n paar tellings rug reguit gemaak en toe by my kom inval en my vak help uitsny.”
Oom Naas sê die aand aan tafel ontwikkel hy sommer ’n soort siekte waarvan hy nog nooit gehoor het nie. Hy wil nie eet nie, want, sê hy, hy is in elk geval te gedaan om te eet en hy’t boonop ’n slegte bewerasie. Hy sê toe vir die oom hy sal maar môreoggend moet huis toe gaan, want hy voel glad nie lekker nie. Dis toe dat een van die meisiekinders sê:
“Ai, nefie, dis darem jammer dat jy nou moet staan en siek word. Ons meisietjinners staan nie vir ’n man tru as dit by sekelsny kom nie, maar jy’t ons vandag al die soorte hel gegee en môre sou dit nog beter gegaan het.”
Maar wag, ek het nou ver afgedwaal. Ek wil vertel van die wasklippe en klapperhaarmatrasse. Ons ma’s het self elke Maandagoggend hulle bondels wasgoed gewas. Elkeen het haar eie wasgoedlyn langs die sinkhuis gehad en elkeen het haar eie wasklip langs die water gehad. Dit was ’n groot plat gladde klip wat so effens skuins in die water ingeloop het. Agter die klip was ’n lekker dik gevoude goiingsak vir haar knieë. Maandagoggend na ontbyt kon jy maar gaan staan en kyk hoe tou die vrouens water toe met hulle bondels wasgoed styf in ’n groot laken gebind. En dan begin was hulle. Elkeen het ook ’n groot sinkbad waarin die klaar gewaste goed kom. Intussen moet hulle oog hou oor die nie-skoolgaande kinders wat in en om die water speel. Die wasgoed word op die klip gewas en gevrywe en af en toe nog ’n slag op die klip geslaan ook. So hou dit aan totdat elkeen se bondel klaar gewas is. Nou word die wasgoed stukkie vir stukkie in die sinkbad uitgespoel, uitgedroog en oor die wasgoedlyn gehang tot vanaand. Vanaand moet die skoolkinders die wasgoed gaan afhaal en huis toe neem. Bewaar jou as jy ’n stukkie wasgoed aan die grond laat raak! Dinsdae word alles gestryk. Dit het bitter min gebeur dat iemand wegtrek, maar indien dit wel gebeur het, het die wasklip saamgetrek. Dit was deel van die huishouding.
Ons het op tuisgemaakte matrasse geslaap. Die materiaaldeel was van ’n baie sterk stof gemaak. As ek reg onthou, het hulle die stof ‘tyk’ genoem. Die slope vir die matrasse was baie kunstig gemaak en daardie slope is vol klapperhaar gestop. As die sloop vol gestop was, is die kant waar jy ingestop het, stewig toegewerk. Nou moet jou matras nog deurgewerk word. Dit beteken dat jy ’n seilnaald en -gare vat en van bo af dwarsdeur die matras steek en weer terug na bo sodat die seilnaald net so ses duim (15 mm) van die boonste knoop af uitkom. Om te voorkom dat die seilgare op die ou end deur die tyk skeur, word ’n ronde leerringetjie met twee snytjies daarin, onder en bo, reg onder die seilgare ingeskuif sodat die gare weerskante in die twee snytjies lê. Dit voorkom dat die leerringetjies onder die seilgare uitskuiwe. Die matras word so deurgewerk dat vierkantige blokkies van ongeveer 10 x 10 duim (250 x 250 mm) gevorm word. Die klapperhaar het ’n nadeel gehad. Na maande se slaap het dit begin klonte maak. As dit te erg geword het, is die matras buitetoe geneem waar een kant oopgesny en al die klapperhaar uitgegooi is. Daardie klapperhaar is dan behoorlik uitgewas, uitgepluis en gedroog. Sodra dit droog was, is die matras soos voorheen gestop en weer net so deurgewerk soos die dag toe jy dit gemaak het. Vannag het jy gevoel jy slaap weer op ’n nuwe matras. Sommige mense het hulle matrasse met vere gestop. So ’n matras het bekend gestaan as ’n bulsak. Ander mense het weer hulle matrasse na elke dorstyd met skoon strooi gestop en so nou en dan het jy ’n matras gekry wat met die blommetjies van die sewejaartjie gestop was. Ek wens ek het geweet hoeveel blommetjies in so ’n matras gegaan het en hoe lank dit geneem het om soveel blommetjies bymekaar te maak.