Een keer per jaar het elke wyk in die gemeente basaar gehou. Dit was nie soos deesdae se basaars wat saans sesuur begin en halfnege verby is nie. Nee, daardie basaars het Saterdagoggend teen nege-uur begin en eers teen sononder end gekry. Lank voor die basaar gaan die diakens reeds hul wyke met hul lyste deur. Elke lidmaat skryf self op die lys wat hy of sy vir die basaar gaan gee. Dis nie jou dankoffer nie; dis net ’n deel van jou dankoffer. Die diakens het nooit nodig gehad om die beloofde goedere te gaan haal nie; elke lidmaat het dit wat hy beloof het, self by die basaar besorg. Die vrouens begin al weke voor die tyd om koek, beskuit, kleinkoekies, koeksisters en melkterte te bak. Ook gemmerbier, koringbier en sider word gemaak. In die slaghokke staan die hoenders wat vet gevoer word om die dag voor die basaar geslag te word. Die basaarkoors loop hoog. Waar jy kom, word net van een ding gesels – basaar. In die huis is bykans nie meer ’n plekkie om iets neer te sit nie. Elke denkbare hoekie is volgepak van basaargoed. Die jaarlikse basaar is ’n groot gebeurtenis en almal sien daarna uit. Veral die kinders kan nie meer die tyd afwag nie, want dis die dag waarop elkeen ’n volle 2/6 (25c) sakgeld kry om te bestee soos hy wil.
Eindelik is dit basaardag. Almal is vroeg uit die vere, want daar is baie dinge om te doen. Hoewel die dominee die basaar eers teen nege-uur open, woel dit al soos ’n miernes van ligdag af. Die tafels word in die skool se klaskamers gereed gemaak. Sodra dit afgehandel is, begin die gebak inkom. ’n Klompie vrouens pak dit netjies reg en steek pryse aan. Buite is die mans en seuns besig om aartappels, patats, pampoen, uie en vrugte aan te ry en af te laai. Aan die een kant van die skoolgrond is haastig ’n kamp gemaak vir die lewende hawe, want etlike skape, varke, pluimvee en selfs een of twee slagbeeste vind hulle weg na die basaar. Dit lyk nie of daar vir alles gaan plek wees op die skoolgrond nie. Dit is so ’n gedrang dat die waentjies wat die goed aanry, dreig om ’n verkeersknoop te veroorsaak. In die skool is daar ook nie meer plek vir ’n muis nie. Die dominee sal sy storie moet ken om sy pad na die verhoog oop te druk. Hy is nietemin stiptelik om nege-uur die oggend op die verhoog en na Skriflesing en gebed open hy die verrigtinge en heet al wat leef en beef welkom. Hoewel die basaar amptelik geopen is, is ’n klomp mans buite op die skoolgrond steeds besig om die produkte wat in ’n dik stroom aankom, af te laai. Ek twyfel of dit op die Baaise mark só bedrywig kan wees. Buite op die stoep is ’n groep vrouens besig om tee en koffie te maak en pannekoek te bak. Hulle kan nie voorbly met die verkope nie. Dit gons dat hoor en sien vergaan. Vandag is die enigste dag van die jaar dat die mansmense roekeloos koop. Ons arme kinders moet net sukkel om na genoeg aan ’n tafel te kom om iets te koop. Dit lyk asof die kans om doodgetrap te word nogal goed is.
Teen elfuur is die vleispasteitjies gedaan, want daar word baie gekoop om huis toe te neem. Ook die outydse konfyttertjies verkoop uitstekend. Die vrouens wat koffie, tee en pannekoek bedien, se ore hang. Dis duidelik dat hulle nie heeldag gaan hou nie. Ten spyte daarvan dat sekere goed uitverkoop is, kreun die tafels steeds onder al die lekkernye. Daar is nog kanne en kanne vol bier en dit lyk nie of die kopers ’n vaal kol maak aan alles wat aangebied word nie. Gelukkig maar dat die kinders so moet sukkel om by ’n tafel uit te kom, anders was hul oulappies vroegoggend al gedaan. Hier teen halftwaalf kan jy maar oplet hoe hulle hul pa’s gaan soebat vir ’n ekstra geldjie. Wat gelyk het onmoontlik te wees, gebeur tog hier teen vieruur se kant. Al wat binne oor is, is ’n klompie geslagte hoenders en vier kalkoene. Die doenigheid verskuiwe nou na buite. Ook die geslagte hoenders en kalkoene word uitgedra. Alles wat buite is, gaan opgeveil word. Selfs Strimling, die dorp se Joodse winkelier, is teenwoordig. Daar is drie afslaers en hulle wissel mekaar af. Dis vir ons kinders te mooi om te kyk en te luister hoe hulle te kere gaan. Die dorpsmense koop tog te lekker om hul groentevoorraad vir die jaar aan te vul. Toe die hoenders aan die beurt kom, sien jy kort-kort hoe iemand met ’n geslagte hoender na ds. Celliers se kar toe loop. Toe een van die manne hier teen die einde gestuur word om ’n geslagte kalkoen ook in die predikant se kar te sit, sien hy daar lê al nege hoenders. Net daar besluit hy om twee van die hoenders te vat en in sy kar te gaan sit. Omtrent twee maande daarna sit hy twee hoenders in sy slaghok, voer hulle vet en slag hulle. Hy gaan gee dit vir die predikant en sê: “Dominee, met Twee Riviere se basaar het ek twee hoenders by u geleen. Hier is hulle nou.” Ek dink hierdie transaksie het die leraar ook goed gepas.
Toe die son op die berg sit, is alles verkoop. Ek bedoel alles! Almal is moeg, maar gelukkig. Daar lê egter nog groot werk voor. Die klaskamers moet ontruim word en die skoolgrond moet aan die kant kom, want Maandag is dit skool en Woensdag sal ons natuurlik weer ’n opstel moet skryf oor “Die Basaar.”