Soos reeds gesê, het ons eers met koring, hawer en na-oes (kontreinaam vir groente soos aartappels, uie, patats, droë boontjies, droë ertjies, ens.) geboer voor Langkloof begin vrugte lewer het. Ons het koring op twee plekke gesaai – op die Vlakte of Klein Langkloof en op Tietiesekraal. Die Vlakte is ’n redelike breë vlakte tussen die voetheuwels van die Tsitsikammaberge en die kusgebergte self. Feitlik elke namiddag in die somer, so teen halfdrie se kant, begin die mis oor die pieke van die kusgebergte oorkook en daal dan aan die Langkloof kant af. Soms lyk dit asof daar ’n groot wit laken oor die berge getrek is. Dis ’n pragtige gesig, maar sodra die mis oor die berge begin stoot, word dit lekker koel.
Tietiesekraal lê in die teenoorgestelde rigting. Tussen Twee Riviere en die Kougaberge lê ’n bergie bekend as Hekshoogte en dis tussen Hekshoogte en die Kougaberge waar die vlakte genaamd Tietiesekraal, lê. Dit was groot saailande, regte Karoogrond waar die rooidubbeltjie of houtspykers soos ons hulle genoem het, hoër as kniehoogte gegroei het. As die reëns die jaar mooi op mekaar gevolg het, het ons daar ook gaan saai.
Sodra die graan begin geel deurslaan, is ons pa’s Humansdorp se distrik toe vir ’n week om te gaan toue trek teen vyf en twintig sent ’n duisend. Die toue groei omtrent twee meter hoog, so dik soos ’n potlood, met die stam heeltemal kaal en net heel bo ’n kroontjie met agt of tien blare aan, sulke lang smal blare. Ons aardrykskunde-onderwyser het later vir ons gesê dis jute. Die boere by wie my pa-hulle die toue gaan trek het, het altyd kom kyk dat daar nie dalk van die toue by is wat wortels aan het nie, sodat my pa-hulle nie vir hulle self gaan toue plant nie. Ons het ’n ideale stuk vlei gehad daarvoor. Later het my pa-hulle wel by ’n goedhartige ou oom ’n klompie gekry en kom plant en die goed het pragtig gegroei. My pa het altyd weer stukkies van die oorspronklikes afgebreek en verder aangeplant sodat ons binne ’n paar jaar genoeg vir eie gebruik gehad het. Hierdie toue is ’n paar dae in die son gegooi om te verlep, of so nie is dit ’n bietjie gekneus en dan kon jy ’n koringgerf met daardie tou bind dat sy middeltjie lyk soos ’n mooi meisie s’n.
Koring is by ons met die sekel gesny. Ons het nog nie ’n selfbinder gehad nie. Dit was ’n mooi gesig om sewe of agt man langs mekaar te sien buk met ’n sekel. D. F. Malherbe skryf in Die Hart van Moab van Askor, die Moabiet, wat die Jode so kis gesny het met die sekel. Ek het baie dae gestaan en wonder hoe hy sou gevaar het tussen hierdie seningtaai Langklowers. Ek weet darem nie of daardie Moabiet die pyp tussen hulle sou kon rook nie! Dit was ons opgeskote seuns se werk om soggens van drie-uur af hopies op te tel en gerwe te maak terwyl die grootmense agter ons die gerwe bind. As die gerf te groot is, skree hulle vir jou: “Haai jy, onthou die goed rus op vleis!” en as die gerwe te klein is: “Onthou die toue is langer as wat jy dink.” Hierdie werk het net tot ontbyt geduur, want daarna het die koring te droog geword en die pitte het uit die are geval. Na ontbyt moes die gerwe wat die oggend gebind is net gou op hope gedra word waar dit so gepak is dat nie sommer enige ou reëntjie die gerwe kon natmaak nie.
As die nagte koel is soos in Langkloof, is ’n slang mos ’n dooi ding. Hy word feitlik stokstyf omdat hy ’n koudbloedige gedierte is. Dit het dan ook dikwels gebeur dat ons met die hopies maak ’n slang tussen die gerwe gelos het – onwetend natuurlik. En die grootmense het nie gespeel met ’n tou as hulle gerwe bind nie. Daardie slang is saam met die koringhalms so vasgebind dat hy nie uit die gerf kon loswikkel nie. Later in die dag, as dit warmer word, het jy maar gesien daar staan ’n geelslang of ’n pofadder half regop op ’n gerf. Dan het iemand hom gaan doodmaak en uitgetrek. Wonder bo wonder is nie een van ons ooit gepik nie. Dit het egter ’n paar keer gebeur dat ’n gerf met ’n lewendige slang in die mied beland. Dan moet jy sien hoe vlie die werkers van daardie mied af. ’n Mens sou sweer hulle het vlerke!
Geen boer het sy eie graan alleen afgesny nie. Die eerste graanland wat ryp word, word sommer deur almal bestorm en kafgedraf. Soms was daar tot twintig sekels bymekaar. En so het ons die lande een na die ander aangepak totdat die oes afgesny was. Ons het nog nie daardie dae die vroeë koringsoorte gesaai nie. Of die vroeë soorte nog onbekend was en of ons pa’s met opset die soorte met die langer groeiseisoen gesaai het, dit weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat as hulle vroeë soorte gesaai het, ons seuns nie vir die oes beskikbaar sou gewees het nie, want die skole het nie voor Desember gesluit nie. Die soorte wat ons gesaai het, was Goudaar, Boshoff, Kleintrou, Bethesda en later ook Kenia Governor. Die Kleintrou het ons altyd op die solder gebêre vir ons eie brood, want Kleintrou het die lekkerste brood gebak.
Wanneer die koring afgesny is, word die bokwaens nagesien, die woelings in orde gekry en die muile gehaal. Daar moet ook sparre – die lengte van die bokwa – gekap word vir weesbome. Die woelings is dik draad en osrieme om die vrag gerwe vas te maak en die weesbome word twee elk langs die kant van die vrag vasgetrek sodat die vrag gerwe nie kan uitskuiwe nie. Die vrag word in die lengte langs die kante en in die middel met die woelings vasgemaak en in die dwarste ook op drie plekke: voor, in die middel en agter. Al wat boer was, het dit as ’n groot skande beskou as sy vrag val. Die vragte koringgerwe is dan aangery na waar jy jou mied gaan pak. Jy moes goed kon skat om te weet hoe groot jy jou mied gaan aanvoor. Partykeer pak die manne nie ’n mooi ronde mied nie – hier en daar staan gerwe uit wat soos swere lyk. Dan vra die manne vir jou hoekom jou mied so ’n groot bloedvint het. As dit gebeur dat jou mied val, en dit het ook gebeur, dan hoor jy nooit die einde daarvan nie.
So lank as die miedens gepak word, sien oom Klasie Kritzinger en sy assistent, Jan Lalie, die dorsmasjien van ’n kant af na. Elke band word nagesien, elke rat word geghries, die siwwe word nagesien en die bakke wat die gedorste pitte vervoer, word fyn deurgekyk. As jy begin dors, moet die dorsmasjien in perfekte orde wees. Wanneer alles gereed is, ry jy brandhout aan na jou mied, sommer hope hout, want die ding wat die dorsmasjien trek, die stoomenjin, is net so snoep oor hout soos hy oor water is!