Inligting (vir besoekers)

21 November 2014

Liewe Vriende van Twee Riviere,

Het u geweet dat die Twee Riviere gemeenskap binnekort 250 jaar oud sal wees?”

Kortliks dan, die feite: Die plaas Twee Rivieren, beskryf as “in de lange Cloof aan d’andere zyde van de Wagenbooms Rivier”, is in 1765 deur die V.O.C. as ‘n leningsplaas toegestaan aan ene Jacobus Scheepers en is op 14 Februarie 1765 (sommige bronne voer aan die 13de) teenoor Scheepers se naam geregistreer. (p141 ; Die Storie van Langkloof ; 2008 ; Anista van Huyssteen)

Daarna, het heelwat bedrewe pionierswerk op Twee Riviere afgespeel, wat oor die gang van die daaropvolgende eeu gelei het tot die totstandkoming van ‘n destyds volledig-selfstandige landelike gemeenskap. Dit hernuwe ons almal se insig om daaraan herinner te word dat selfs ‘n historiese V.O.C. drostdy soos Swellendam slegs maar ‘n geringe 20 jaar voor Twee Riviere tot stand gekom het. ‘n Dorp soos George sou eers in die vroee 1800’s verrys, en soortgelyk sou dit bykans 150 jaar duur vir nabygeleë Joubertina om op Twee Riviere se horison te verskyn. Dit dan, ter perspektief…

Dit voel dus heeltemal gepas om hierdie merkwaardige datum te huldig as ‘n waardige, intieme en eintlik “huislike” aangeleentheid: Vir Twee Riviere, deur Twee Riviere dus. Terwyl ‘n gewaardeerde (jonger) buurdorp soos Joubertina dus uiteraard nie aandeel het aan hierdie huldiging nie, word inwoners van die ewe historiese Heights en Kouga natuurlik hartlik aangemoedig om aan te sluit.

Watter vorm sal die Toewydingsweek neem?

Wat nie beoog word nie, is ‘n sogenaamde “feesprogram”. Laasgenoemde kan maklik hol of oneg voel, gegewe die karakter en beskeie omvang van die Twee Riviere plaasgemeenskap. (Daarom ook geen poging dus om buurdorpe of besoekers te lok nie, maar boorlinge en oud-inwoners beslis!). Immers sal hier niks “te koop” wees nie, want handel dryf is tog nie die oogmerk nie. Eerder maar ‘n opregte, gemoedelike toewydingsweek, waartydens inwoners en afstammelinge van Twee Riviere mekaar mag herinner aan diepe spore getrap, en aan 250 jare se volgehoue bestaan – wat in die geval van die boorling-families immers terugstrek oor twee eeue, en selfs meer.

Geskrewe uitnodigings word tans landswyd gepos aan elke opspoorbare boorling en persone met Twee Riviere herkoms, asook aan destydse inwoners wie hul tans elders bevind. Het u dalk self ook kontak met enige nasate en lede van Twee Riviere se vestigings-families – of met persone wie in die verlede grondbesit uitgeoefen het in Twee Riviere? Moedig diesulkes tog aan om kontak maak met hul familie of kennisse wie steeds op Twee Riviere woon, om kuier & slaapplek te reël! Hierin, laat ons oorwegings van buurdorp-verblyfplekke tog maar eenkant skuif. Vir al die boorling-families lê hierin immers gulde geleentheid om verre familiebande te verfris deur op Twee Riviere of Heights te versamel vir ‘n innige, huislike week van reûnie…

‘n Aansporingsbrief is ook inderdaad in Twee Riviere, Heights en Kouga versprei, met die hartlike versoek aan inwoners gerig dat elkeen hul huise en geriewe met gasvryheid oop sal stel aan soveel familielede en vriende van Twee Riviere as waaraan billikerwys slaapplek gebied kan word! Laat almal beoog om in mildelikheid van gees mekaar die hand uit te reik, beide op straat en aan’t huis. Van diegene wie oorweeg om per karavaan te kom kuier, word dit ook versoek om tog hul staanplek by ‘n gasheer op Twee Riviere te kom vind. Dit sal immers paslik wees, gegewe die gees van hierdie dorps-reûnie. Hoe ook al, laat Twee Riviere toe om niemand weg te wys nie, maar met waardering aan almal ‘n gasvrye holte te bied hier op die “Plaas” en familiegronde.

Die sentrale herdenkingsgedagte is dus een van samesyn en toewyding.

Vir byna twee eeue lank het Twee Riviere se inwoners hul seuns en dogters hier grootgemaak en hul oortuigings en lewensdrif in die Kloof uitgeleef. Daardeur was ‘n eens florerende en innige gemeenskap uitgebou – soos sommige nog kan getuig. Sedert die 1950’s, tref dit mens, het daardie oortuigingskrag toenemend begin wankel, en later geswig, onder ‘n groeiende verbruikerskultuur en die ongenoegsaamheid wat gepaardgaan. (Ook ‘n landswye tendens, natuurlik.)

Kan dinge egter weer hier werk soos in die vroeër jare? ‘n Mens vorm die indruk dat die tye (ekonomies ook) immers reeds begin terugswaai het, en dat die verlede homself toenemend wil herskep waar die oortuiging nog bestaan. Indien wel, is dit goeie nuus, en beleef Twee Riviere binnekort nog ‘n herlewing en uitbouing van daardie eertydse, lewenskragtige en hegte gemeenskap wat homself immers oor die gang van twee eeue kon handhaaf! Sommige glo die vroeë botsels daarvan is reeds te bespeur…

‘n Week van Toewyding, dus. (“A week of Dedication”, for English readers.)

Twee Riviere se Toewydingsweek sal langsaam begin, en strek van Sondag tot Saterdag, 1 – 8 Februarie, 2015:

  1. Die eerste paar aande sal gewy word aan gemoedelike sang en serenades, straatlangs voor die huise van Twee Riviere. Jonk en oud wie wil help musiek maak, saamstap of sing, word hartlik aangemoedig om deel te neem, hetsy formeel of spontaan. Oud-inwoners en familie word aangemoedig om te arriveer – soos dit pas – met die gang van daardie week.

    2) Vrydagaand, 6 Februarie breek die Toewydingsbyeenkoms in Twee Riviere Kerksaal aan, waartydens besoekende familie en oud-inwoners verwelkom sal word, en ons ook na sang en vertellings sal luister – of dit bydra. Laat ons mekaar daar met waardering op die hande dra en daardeur aan mekaar trou en toewyding betoon hier in ons gemeenskaplike huis, Twee Riviere.

    3) Saterdagaand, 7 Februarie word ‘n Langtafel Gemeenskaps-ete in Twee Riviere se Hoofstraat voorberei vir tot en met 200 gaste. Kom sit aan? Vanaf etenstafel, verskuif die inwoners en besoekers na die Instituut se kampustuine, waar die afskeidsgeleentheid sal afspeel. (Dis naby volmaan, dis hoogsomer, en mens hoop maar vir ‘n helder, windstil aand, nê?).

    4) Sondagoggend: Die eerste besoekers en gaste sal waarskynlik huiswaarts begin keer. Byna onvermydelik, sou sommige mekaar inderdaad ook vir die laaste maal gesien het. Kom ons eer hierdie gulde wedersiens dus in ‘n gees van opregte liefde.

Ten slotte: Ons hartlike waardering word hiermee uitgespreek teenoor al die medewerkers wie se bystand, gereedskap, onderskraging en aanmoediging dit moontlik gemaak het om Twee Riviere se ingangspad vanaf die R62 voor te berei met ‘n statige boomlaning! Die hulp en bemoedinging van verskeie lede van Olivier en Schreiber en Ferreira gesinne – asook die gunstige bystand van die maatskappye langs hierdie aanrit – het die weg gebaan vir ‘n uitdrukking van gemeensaamheid wat mettertyd vir almal in Twee Riviere tot blywende eer sal strek!

Met hartlike groete,

Adriaan Botha

Twee Riviere

Enigeen met vrae ten opsigte van die Toewydingsweek, of met aanbiedings van hulp, is welkom om Retha Grundlingh te skakel tydens kantoor-ure by Tel 042 2731567, of te gesels met Reuben Botha by The Belfry Kitchen, Tel 042 2731089. Rig emails gerus na 250@tweeriviere.net, of bly binnekort op hoogte via www.tweeriviere.net

Wat betref die Toewydingsweek se verrigtinge: Die bedoeling is dat alles gratis mag wees.

Laastens: Laat besoekers hul tog nie ontmoedig deur die vervalle toestand van Twee Riviere se ou skooltjie gedurende hul Februarie besoek nie. Die Munisipaliteit weerstaan tans nog die gemeenskap se pogings in die verband, maar die saak geniet aandag. Laat ons dus verlief neem daarmee om die erg verstote skooltjie voorlopig sy dag te laat afwag, terwyl elkeen tans hul aandag en sorg eerder op die mense van die plaas en dorp vestig. Daarlangs lê ons goeie hoop en vertroue – ook mettertyd ten bate van die tans betreurenswaardige skoolgebou!