As vrugte steel sonde is, is die verderf my voorland. Ek moet openlik lieg as ek sê dat ek ooit spyt gekry het oor vrugte wat ek gesteel het. ’n Gesteelde vrug, watter soort ook al, is mos net lekkerder en soeter en sappiger as ander vrugte. Nou mag u wonder waarom ’n mens vrugte steel in ’n streek waar so baie vrugte is. Feit is, sekere soorte, byvoorbeeld kersies, was bra skaars. Hulle is gesteel. Dan was daar altyd een of ander boord waarvan die vrugte vroeër ryp geword het as die ander boorde s’n. Hulle is ook gesteel. Sekere lemoen- en nartjiebome se vrugte was eenvoudig net smaakliker as ander bome s’n. Hulle is ook gesteel. Druiwe was skaars, daarom is hulle ook gesteel. Iemand het dalk ’n soort waatlemoen of spanspek geplant wat lekkerder was as die gewone soorte. Hulle is ook gesteel. Iets wat ons ook baie graag gesteel het, was aarbeie. Daar was ’n paar boere wat aarbeie aangeplant het en ons kon nie wegbly van daardie lande as die aarbeie ryp word nie. Daar was sommer ’n hele paar goeie redes waarom Langkloof se kinders moes vrugte steel. Afgesien van die lekkerte van die vrugte, is daar nog altyd die uitdaging wat aan die stelery verbonde is. Die moontlikheid dat jy gevang gaan word, is groot en dis vrek moeilik om party soorte te steel.
Ek sal nie vergeet hoe moeilik dit was om oom Lang Martiens se turksvye te steel nie. Jy’t gewoonlik met ’n hele paar dorings in die hande, lippe en lyf geëindig, maar dit was oor en oor die moeite werd. Die moeilikste ding om te steel na ’n turksvy, is ’n kersie. Jy moet pluk dat dit bars om jou sakke binne ’n uur vol te kry en dan is daar nog groenes ook tussenin. Dis definitief nie alle vrugte wat in die donker gesteel kan word nie. Ons moes ver loop om by oom Soon se kersieboord te kom. ’n Kersie is mos maar ’n skaamdraer, maar daardie boord van oom Soon het uitstekend gedra en dit was die heerlikste kersies onder die son. Ons was baie puntenerig oor waar en wat ons gesteel het.
Oom Blink Fanie het die lekkerste waatlemoene gehad. Een aand kom ons by oom Pieter Elletjie. Hy is al in die bed. Ons sê vir hom ons gaan waatlemoene by oom Blink Fanie steel en vra of hy wil saamgaan. Onmiddellik staan hy op en boonop presenteer hy om met sy kar te ry, want dis ver. Die oom ry met ’n ou Lincoln wat twaalf silinders het en alles op die pad verbysteek, behalwe ’n petrolpomp. Gelukkig is dit maanlig, want ons moet sonder ligte ry. Oom Pieter het nog sy pajamas aan. Toe ons in die waatlemoenland kom, begin ons pluk en aandra kar toe. Die oom is nie lus vir die heen en weer lopery nie, dus trek hy sy pajamabroek uit en knoop die twee pype onder toe. Dié word vol ryp waatlemoene gepak, maar nie een van ons is gebore in staat om die broek vol waatlemoene op sy skouers te lig nie. Ons was verplig om alkante aan die broek vas te hou en die waatlemoene só kar toe te karwei. Toe iemand praat van nog ’n slag gaan haal, keer oom Pieter egter en sê: “Nee manne, genoeg is genoeg.” Toe ons by die huis kom, was ’n paar van die waatlemoene stukkend en oom Pieter moes maar die nag sonder sy pajamabroek slaap.
Behalwe oom Gielie Bokkie se Jargonelle-pere wat die vroegste van die peersoorte is, het ons nooit appels en pere gesteel nie. Ek is baie eerlik as ek sê ek het die vrugte, sowel as die vrugtestelery terdeë geniet en tot vandag toe het ek nog geen berou daaroor gehad nie. Gelukkig is ons nooit gevang nie.