Dit sal seker baie ondankbaar van my wees om een en ander oor Langkloof te vertel en na te laat om iets van die onderwysers wat ons gehad het, te sê. Sonder uitsondering het ons leerkragte gehad wat hul plek elke dag volgestaan het, nie net in die skool nie, maar ook in die gemeenskap. Almal was manne en vroue na wie Langklowers opgesien het.
Mnr Longland se naam is al ’n paar keer genoem. Hy was prinsipaal op Twee Riviere en daar het hy gebly tot kort voor sy aftrede. Hy was liggaamlik ’n groot en sterk man. Daar word vandag nog met groot agting en dankbaarheid van hom en sy vrou gepraat. Hulle het op elke gebied, behalwe in die politiek, die leiding geneem. Mnr. Longland was gelukkig om uitstekende onderwyseresse op sy personeel te hê. Ek dink aan dames soos mejj. Fourie, Celliers, Rousseau en Schoeman, almal dames met buitengewone talent. Hulle het almal hul stempel op die leerlinge afgedruk.
Joubertina, die setel van die hoërskool, was ook baie gelukkig om ’n man soos mnr. McLachlan, of Oumeneer soos hy bekend gestaan het, as hoof te hê. Hy was klein van postuur, maar ’n man met ’n geweldige deursettingsvermoë. Hy het as jong onderwyser op Joubertina begin skoolhou toe die primêre skool nog as ’n A-3 skool geklassifiseer was. Teen die tyd dat Oumeneer afgetree het, kon Joubertina met ’n hoërskool wat ’n goeie naam in die Oos-Kaap gehad het, spog. Mnr. McLachlan het geskiedenis gegee, maar sy groot liefde was sang en musiek wat hyself behartig het. Geen leerkrag op sy personeel is toegelaat om sang te gee nie! Dis seker maar van hom dat sy seun, Philip, sy liefde vir sang geërf het. Ek wonder of daar destyds ’n gemeente in die land was wat so lekker soos Joubertina se gemeente gesing het. Langkloof kon altyd daarop roem dat sy mense lekker kon sing en Oumeneer het hierdie liefde vir sang by hulle verder ontwikkel en uitgebou.
Oumeneer het ’n personeel gehad waarop enige skool en sy leerlinge kon trots wees. Al die leerlinge wat onder Oumeneer se hande deur is, praat vandag nog met groot respek van hulle onderwysers. Mnr McLachlan het nie ’n tweedegraadse leerkrag op sy personeel geduld nie. Onderwysers wat daar aangestel is, het gekom om te bly. Om u ’n idee te gee; twee onderwysers op daardie personeel het vir my ma skoolgehou, sowel as vir my en drie van my susters. Ek wil graag ’n paar name noem. Mnr. Jack Deyzel was ons aardrykskunde-onderwyser. Hy’t ook wetenskap gegee en ek is seker dit was hy wat by my ’n liefde vir daardie spesifieke vak gekweek het. Daar was mnr. Nick Dreyer, vader van prof. Thom Dreyer van Stellenbosch. Hy het die onbenydenswaardige taak gehad om ons boerkinders Engels te leer. Mnr. S. C. A. Weich het biologie en wiskunde gegee. Hy was ’n uiters streng, maar regverdige mens. Mnr. Tiempie Lamprecht was ons landbou-onderwyser. Hy het nie net ons kinders landbou geleer nie, maar het ook oneindig baie vir die boere van Langkloof beteken. Mnr. Steve Coetzer het ons ons liefde vir die eie taal geleer. Taalperiodes was normaalweg droog en vervelig, maar nie mnr. Coetzer se klasse nie. Ons het gelewe in sy klasse. Mnr. Jurie Geldenhuys het vir ons liggame gesorg. Hy’t as jong onderwyser na Joubertina gekom, is daar getroud en het daar afgetree. Mnr. Kobie du Preez was die hoof- primêre assistent. Hy was ’n kwaai onderwyser en geen leerling het by hom ’n kans gewaag nie. Dan was daar die driemanskap: mejj. Sippel, Schaap en Rall. Hulle het hul lewe lank op Joubertina skoolgehou en na hul aftrede het hulle saam gaan woon.
Die plaasskole van daardie tyd was sterk skole. Elke gemeenskap het ’n skool gehad met ’n personeel van drie of vier leerkragte. Krakeelrivier se skool was seker die sterkste. Hulle het ’n uitstaande prinsipaal gehad in die persoon van mnr. Van Tonder wat sy hele grootmenslewe daar deurgebring het. Mnr. Matthee wat op sy personeel was, het ook feitlik sy hele lewe op Krakeelrivier geslyt. Louterwater het gespog met mnr. Hennie van Zyl, ’n baie veelsydige man. Hierdie manne en vroue het almal gehelp bou aan Langkloof. Nie een van hulle is al vergeet nie en sal vir ’n lang tyd nog onthou word. As hulle nog gelewe het, sou hulle seker trots kon terugkyk, want hulle het ’n klompie goeie produkte help lewer. Ek wil net een se naam noem: dr Maryna Ferreira, ’n wêreldbekende op die gebied van tandheelkunde. Ons is trots op die onderwysers en onderwyseresse wat ons gehad het. Ons eer hulle nagedagtenis!