Toe ek in die laerskool was, was daar nog nie ’n appel- en peerboerdery in Langkloof nie. Daar was wel ’n klompie lemoenboorde. Van die lemoene is gepak en uitgevoer. Saans het die huisgesinne – mans, vrouens en kinders – in die stoor waar gepak is, bymekaar gekom. Destyds was daar ’n algemene herlewing op godsdiensgebied en ek sal nooit vergeet hoe die grootmense gesing het terwyl die kinders in kissies sit nie. Een lied onthou ek baie goed:
Dit was nie om te oordeel nie.
Dit was ’n ander saak.
Hy het gekom om ons te soek
En salig te kom maak.
Die boerdery destyds was maar saaiery en dit wat bekend gestaan het as na-oes, d.w.s. aartappels, uie, pampoene, patats, droë boontjies en droë ertjies. Ek moet byvoeg dat die area nie juis ’n wafferse gebied vir koring is nie, want in ’n buitengewoon goeie jaar was jy baie bly as jy tien sakke koring van een mudsak saad gedors het. Sommige jare was die gesaaides so swak dat ons net die beste lande geoes het. Die ander lande het ons laat afwei van die beeste. So ’n jaar het ons maar noustrop getrek, want daar was nog ’n winkelrekening wat afgelos moes word en ons was brandarm. Ons moet die Skotse immigrant, Alexander Baldie, seker beskou as die baanbreker op die gebied van vrugteverbouing in Langkloof. In 1904 het hy 3 000 appelboompies van Pickstone se kwekery op Simondium bestel om op sy eiendom by Misgund aan te plant. Hy het ook vir sy bure boompies en steggies gegee vir aanplanting en so is die vrugteboerdery in Langkloof gevestig.
Op Twee Riviere was daar drie winkels: Strimling, die Jood, oom Jan Jan en oom Danie (Smid) Olivier, die gewese grofsmid. In 1935 was daar honderd en ses huisgesinne op Twee Riviere en tot en met 1945 was net vier en twintig van daardie gesinne nie Oliviers nie. Daar was vier Schreiber-broers en hulle het saam met die Jood in die Witkamp gebly. Daar was drie Van Wyk-broers, twee Strydom-broers, twee Murray-broers, drie Kritzinger-broers, twee Gerber-broers en twee Ferreira-gesinne. Verder was daar nog oom Okker Hannie, oom Japie Botes, oom Stephen Smith, mnr Longland, die prinsipaal, oom Jaap Rheeder, oom Willie Taljaard en oom Naas du Preez. Die Oliviers was verdeel in familiegroepe soos die Groot Okkers, die Lettie-boere, die Jan-boere, die Ellatjies, die Mowwe, die bergboere, die Basies, die Salies en die Toeie. Omdat almal die een aan die ander geskakel het, was daar baie met dieselfde familiename. Oom Wessel Schreiber wat die pos gehou het, het maar baie hoofbrekens gehad met die sorteer van die pos. Op een stadium was daar nie minder as vyftien mans met die naam M. J. Olivier nie. Die gevolg hiervan was dat elkeen se pa se naam agter sy eie naam genoem moes word en soms was dit nie eers genoeg nie, dan moes die oupa se naam nog agter die pa se naam gebruik word. So het name ontstaan soos Giel Okker Thys, Giel Okker Dail en Giel Okker Grote. My ma se jongste broer, S. C. Olivier, het dit goed gevind om sy produkte onder sy bynaam, S. C. Moff, te bemark. Om seker te maak dat sy pos direk na hom gestuur word, het hy selfs sy vrugte in Engeland en Skandinawië onder hierdie naam bemark.
Oom Gielie (Bokkie) Olivier het seker nie altyd geweet waar hy oral grond gehad het nie. My pa en sy twee broers, oom Naas en oom Dries, oom Okker Hannie, oom Lang Martiens en oom Jaap Rheeder was almal deelboere by oom Gielie. Daardie tyd het ons van bywoners gepraat. Verder het oom Gielie ook ’n eie boerdery gehad met twee bestuurders, oom Japie Botes en oom Willie Taljaard. Op sy plaas was nog ’n rollermeule wat deur sy swaer, Wouter van Wyk, en oom Koos Mof behartig is. Daar was ook die dorsmasjien wat in ’n groot deel van Langkloof geopereer het. Oom Klasie (Pieter) Kritzinger was die man wat hiermee gewerk het. Wanneer die oestyd verby was, het oom Klasie skrynwerk gedoen.
Al die familiename van Langkloof, saam met ’n hele paar ander vanne, was natuurlik in Joubertina se gemeente verteenwoordig. Krakeelrivier het feitlik uitsluitlik Strydoms gehuisves, Misgund weer Kritzingers en Grootplaas en Nuweplaas was Ferreira-wêreld.
Wat ek verder gaan vertel, gaan die meeste oor Twee Riviere omdat ek daar gebore en getoë is, maar ek dink dat wat ek gaan beskryf van toepassing op elke Langkloof-gemeenskap was.
Soos voorheen gesê, was die groot meerderheid van ons destyds brandarm. Ons het nooit gekoop wat ons nodig gehad het nie, maar alleenlik dit waarsonder ons glad nie kon klaarkom nie, bv. koffie, suiker, rys en toiletseep wat ons nie self kon maak of produseer nie. Ten spyte van die feit dat ons bitter selde geld gesien het, het ons nooit gebrek aan kos gehad nie. Kos was daar altyd in oorvloed – goeie kos. Ons het nooit koud geslaap of stukkende klere gedra nie. Oom Hendrik (Brille) Kritzinger, ’n broer van my pa het ons skoene heelgemaak en versool en ook nuwe skoene gemaak. Ons ma’s het self ons klere gemaak – broeke, hemde, baadjies, selfs hoede. Ons seuns het nooit voor ons tien jaar oud was ’n broek met ’n gulp gekry nie. Die broekie het net voor so ’n 40 mm-slippie gehad en hoe dikwels het ons nie daardie broeke agterstevoor aangetrek nie! Ons was maar skaam daaroor, maar ek het later uitgevind dat slippiebroeke vir seunskinders in ander streke ook mode was. Ant Hester (Ponsie) Gerber op Joubertina het selfs manspakke gemaak. In daardie dae was daar nog nie een tante nie, net anties. Om die anties van mekaar te onderskei, het ons weer hulle mans se name by hulle voorname gevoeg, bv. Lenie Naas, Lenie Jan en Lenie Andries.
Om terug te keer na die drie winkels op Twee Riviere. Die kopery by dié winkels was meer ’n handeldrywery as ’n kopery. Feitlik almal moes hul benodighede maar by die jaar koop. Na elke oes het die boer na die handelaar gegaan om uit te vind hoeveel hy skuld. Dan het die handelaar vir hom gesê: “Jy skuld my vyftien sakke koring, honderd en vyftig pampoene, twintig kiste patats, dertig sakke uie en vyf en twintig sakke aartappels.” Sodra hierdie goedere gelewer was, was jou boek skoon en jy kon jou orige produkte bemark. Dan het jy darem vir ’n tydjie ’n bietjie kontant gehad en intussen het die hoendereiers en die plaasbotter gesorg dat jy kruideniersware vir kontant kon koop. As jou geld gedaan was, het jy maar weer op die boek gekoop tot die volgende oes.
Ons kinders moes namiddae na skool werk. Vakansietye moes ons ons plek inneem saam met die arbeiders. Saterdag is voldag gewerk. Sondagoggend gaan jy kerk toe en Sondagmiddag is dit Sondagskool. Na Sondagskool begin die groot speel van die week. In die somer is ons swemgat toe en die speletjies wat ons daar nie gespeel het nie, was seker nie die moeite werd om te speel nie. Een spesifieke Sondag was ons egter in ’n groot penarie toe ’n paar jong meisies wat gaan stap het, al ons klere bymekaar gemaak het en daarmee weggestap het. Daar was drie van die Schreiber-meisies by – Johanna, Juliana en Rosali. Hulle drie was maar altyd oorgehaal om ons seunskinders in die noute te dryf. Ons was verdwaas, maar ou Jer, oom Gert Wetter se seun, het die situasie gered. Oom Gert was die plaas se grofsmid en hy het net een vloekwoord geken – wetter. En ou Jer het so in sy pa se voetspore gevolg. Toe die meisies omtrent vyftig meter weg is, sê ou Jer: “Manne, geen wetterse meisiemens dra my wetterse klere weg nie.” Hy strompel uit die water en sit in agter die meisies. Met die een hand hou hy toe wat hy kan toehou en met die ander hand vee hy watteltakke uit sy pad. Toe die dogters dit gewaar, sien jy net klere waai en hulle hol skoon uit ou Jer uit. Ons geliefkoosde spel in die winter was bok en hond. Tien seuns word gekies as honde. Die ander is bokke. Hulle kry honderd tellings kans om weg te kom van die honde af en dan begin die jagtery. Gewoonlik was die bokke almal teen sononder gevang. ’n Ander speletjie wat ons baie geniet het, was “goal.” Ons het ’n groot reghoekige stuk grond gehad met twee klippe omtrent vyf meter uit mekaar aan weerskante. Dit was die doelpale. Die bal moes tussen die twee klippe deurgeskop word vir ’n “goal.” Daar was geen reëls nie en dus ook geen skeidsregter nie. Die bal is heeltyd aan die beweeg gehou en is nooit toegelaat om te bly lê nie, behalwe nadat ’n “goal” behaal is. Later het ons gehoor die spel se naam is sokker.