In Langkloof het ons geglo daar is nie ’n plaas so arm as ’n plaas wat nie osrieme en strooi gehad het nie. Daarom is daar altyd gesorg dat elke plaas alleen die beste osrieme gehad het en ’n osriem is dan ook soos goud opgepas. Jy’t nie sommer enige beesvel opgesny vir osrieme nie. Ek kan nie sê waarna die ou mense alles opgelet het nie, maar ’n beesvel waarvan osrieme gesny moes word, is baie deeglik deurgekyk. Dit was ook nie enige Jan Rap wat ’n beesvel in osrieme kon opsny nie. Eerstens moes jy ’n goeie skerp mes hê. Oupa het geglo in die Josef Rooigert (Joseph Rogers). Tweedens moes jy die slag hê. Oupa het altyd gesê jy moet jou mes mooi sekuur agter jou duim laat aanloop. Jou mes moenie hot en haar loop nie.
As jy begin sny, sny jy eers al die uitstekende punte van die bene en lieste weg sodat die vel ’n egale vorm het. Dan begrawe jy die vel vir ’n paar dae in kalk, óf in sout en semels, sodat die hare afgemaak kan word. Wanneer die hare af is, begin jy van die buitekant van die vel af een lang riem al in die rondte sny, ’n strook van so om en by 50 mm breed, totdat die hele vel opgesny is. Ons het altyd die agterwiel van ’n wa geneem en ’n stuk geboë hout aan die speke vasgemaak. Die wiel word dan 3 vt. hoog (ongeveer 1 m) loodreg onder die tak waar jy gaan brei, op ’n staander bo die grond geplaas. Nou steek jy die punt van die lang riem deur die stuk hout, trek dit deur en bo-oor die tak, weer deur die hout, weer oor die tak en so hou jy aan totdat die hele riem deurgetrek is. Jou tak moet so 4 vt. (1,2 m) bo die grond wees. Nou neem jy die ding waarop die wiel gelê het weg sodat die wiel aan die rieme hang. Jy het ’n paal van omtrent 4 m lank wat jy deur die geboë hout steek dat die punt anderkant uitkom en jy begin al in die rondte loop sodat jy die rieme opwen totdat die wiel min of meer gaan regop staan bo teen die tak. Die paal moet nou uitgeruk word en as die wiel nie regop staan nie, moet die paal dwars uitgetrek word, iets wat nie so maklik is nie. As die wiel gaan regop staan, trek jy ondertoe en nie dwars nie. Nou trek die paal baie makliker uit. Die wiel hardloop al in die rondte totdat dit gaan staan. In die proses word die rieme gebrei. Sodra die wiel staan, steek jy maar weer die paal in en begin opnuut opdraai. Dis ’n eentonige proses en dit hou gewoonlik veertien dae aan. Jy trap ’n spierwit paadjie al in die rondte uit. Een keer elke dag stop jy om die rieme vet te smeer en so gaan die breiproses tot vervelens toe aan. Saans moet die rieme opgedraai word tot bo teen die tak en dan met ’n seil toegemaak word, want daar mag nie reën op die rieme kom nie.
Wanneer die riem na jou sin gebrei is, word dit afgehaal en afgerol van die wiel. Nou word daardie een lang riem opgesny in lengtes van ongeveer 4 m, of so lank as wat jy die rieme verkies. Elke riem moet nou ’n sterk ring kry. Dis nie so ’n maklike proses om te beskryf nie, maar doodeenvoudig om te demonstreer. Die onderpunt van die riem word vir omtrent 75 mm skuins gesny om maklik deur die ring te gaan.. As jy klaar is, het jy voorwaar iets waarop ’n boer baie trots kan wees. As ’n mens dink aan die werk en tyd wat so ’n breiery van jou verg, dan is dit nie snaaks dat die mense so heilig op ’n osriem was nie. Die rieme is in spesiale kiste gebêre waar ’n rot of muis nie kon inkom nie, want hulle het geen osriem met rus gelaat nie. Bewaar jou siel as jy vanaand ’n osriem gebruik het en hy word môre-oggend nog buite die kis gevind. Dan kon jy seker wees jou nerwe gaan waai!
Dit is nou maar eenmaal so dat ’n breiwiel ’n verleidelike bekoring vir ’n seun het. So het ons twee lelike loesings op die lyf geloop omdat ons die breiwiel nie kon uitlos nie. Sondagmiddae teen halftwaalf was ons klaar geëet en dan het die oumense gaan rus. Ons was ook veronderstel om te gaan rus, maar dit was eintlik die tyd wanneer die kattekwaad begin het. Die boom waar die rieme gebrei is, – ’n reuse-eikeboom – het so 100 m van Oupa se huis af gestaan. So gebeur dit dat ek en my twee oompies, Okker en Fanie, een Sondag na ete onder die ou akkerboom in die koelte sit. Dit sou seker goed gegaan het as ou Jer nie ook daar aangekom het nie. Jer kry toe ’n onkeerbare drang om te voel hoe ’n breiwiel ry. Ons maak die breiwiel los en laat hom afloop. Nou moet ons ou Jer help om op die wiel te kom. Hy omhels die bos rieme bokant die wiel en gee ons opdrag om te begin opwen. So amper bo sê ou Jer dis hoog genoeg, ons moet die spar uittrek. Ons maak so. Meteens skree ou Jer: “Stop! Stop die wetterse ding!” maar hoe gaan ons daardie ding stop wat so vinnig in die rondte tol? Toe die wiel uiteindelik vanself loop staan, sit ou Jer nie meer op die wiel nie, hy lê. Hy kots en kreun dat dit ’n naarheid is. Onder sommige van sy vingernaels loop bloed uit. Die ander vingerpunte is potblou soos hulle gedruk en gekneus is toe hulle tussen die rieme ineengestrengel geraak het. Ons help ou Jer van die wiel af, maar hy is dronker as enige Engelse lord en kan nie op sy voete staan nie. Die ou lyk gehawend. Kort-kort tel ons hom op sy voete, maar hy slaan net weer neer. Regoor ons was ’n pitlemoenboord van Oupa. Dit was geweldige groot bome en die takke het tot op die grond gehang. Ons het ou Jer opgetel, aan weerskante gestut en onder die lemoenbome gaan neerlê. Kort-kort kots die ou nog. Daar het ons met hom gesit tot dit so laat geword het dat ons móés huis toe gaan. Sy ma, ant Meraai Gert, het dadelik gesien hoe gehawend hy daar uitsien en oom Gert gaan roep. Oom Gert het Oupa gaan roep. Die spantou het teen die muur aan sy spyker gehang. Verder kan u maar raai – dit sal raak wees.
My oupa was ’n baie ywerige jagter. Hy het twee uitgeleerde jaghonde, Bonnie en Vlokkie, gehad. Die twee honde is deur Okker afgerig. Hy het ’n wonderlike talent met honde en perde gehad. Bonnie was ’n groot sterk hond. Vlokkie was skralerig en spierwit. Die twee honde het nooit ’n jong diertjie doodgebyt nie, maar het hulle lewendig na Oupa gebring. Die gevolg was dat daar altyd ’n jong duiker, grysbok of bobbejaan op Oupa se werf was. So ongeveer twee jaar na ou Jer se episode op die breiwiel was daar juis weer so ’n jaaroud-bojaantjie en onder die akkerboom, juis weer ’n breiwiel. Dis tog jammer dat ’n kind nooit uit die gevolge van sy dade leer nie. Ons het al vergeet van die loesing wat ons oor ou Jer en die breiwiel gekry het. Op ’n Sondagmiddag kom fluister die duiwel weer in ons ore: “ Hoe sal dit wees as julle die bojaantjie op die breiwiel sit?” Dink en doen was feitlik een ding en kort voor lank sit Fielies vasgemaak op die breiwiel. Die einste ou Jer is weer in die gelid. Ons begin opwen, die keer nie tot amper bo nie, maar tot heel bo, en ons ruk die spar uit. Die wiel tol en ek hoor net ou Jer sê: “Sies, jou wetterse bojaan.” Toe sal ons maar sien, oor ou Jer se spierwit hemp loop ’n breë goudgeel streep, kompleet soos ’n Matie wat pas graad gevang het. Intussen sien ons hoe Fielies ook sommer ’n pragtige goudgeel sirkel op die grond trek. Fielies self lê soos ’n dooi ding op die breiwiel en sy maaginhoud loop aanmekaar uit. Waar alles vandaan kom, kan ons nie dink nie. Dit lyk vir ons hy vervaardig die goed. Die wiel staan lankal, maar die maag hou aan loop. Ons maak die bojaan los, maar ons moet so versigtig vat om nie besmeer te word nie dat ons hom maar eers so op die wiel laat lê. Na ’n tyd begin die maag stop en Fielies begin so sagweg kerm en kreun en hy val tussen die speke deur grond toe. Daar lê hy nog geruime tyd en eindelik probeer hy opstaan, maar hy is so dronk dat hy net weer neerslaan. Omtrent vyftig meter van die breiwiel af het ’n pekelvaatjie vol water gestaan om uit te vars. Toe Fielies begin hardloop, kies hy reguit koers na die vaatjie. Ons sien hy soek wegkruipplek. So drie meter van die vaatjie af raap hy homself op en beland mooi netjies in die yskoue pekelwater. Daar is hy gouer uit as wat hy in is en toe ken hy net een pad – reguit na sy paal toe. Hy’t daar op die grond gaan sit en die paal styf omhels. Daar het ons sy tou om die paal gaan vasgespe en daar het my oupa hom die aand gekry – morsdood. Oupa het vir Ouma gesê: “ Foeitog, ’n slang het hom seker gepik.” Ons sou verbygeskuif het as dit nie vir Ouma was nie. “Gmf, watwou slang! Daar staan jou drie slange. Vra maar vir hulle hoe hy dood is.” Die skuld moes op ons gesigte gewys het, want dit het Oupa nie lank gevat om uit te vind wat gebeur het nie. Ongelukkig het daar ook aan Oupa se kombuismuur ’n spantou aan ’n spyker gehang. Raai maar weer – u is reg.