Nuwejaarsdagoggend van 1932 toe ons opstaan, val daar ’n sagte deurdringende reën uit die suidoos. Dit reën die heeldag sonder ophou. Die heelnag deur hoor ons maar net die reën op die sinkdak. Die volgende dag dwarsdeur sous dit. Die water weet nie meer watter kant toe om weg te loop nie. Daar is nog geen teken van ’n breek in die weer nie. Ons soek werk in die store en torring hier en daar aan gereedskap, maar uiteindelik weet ons nie meer wat om met onsself aan te vang nie. In die huis wil ons ook nie bly nie, want die vrouens sê ons werk net op hulle senuwees. En dit reën nog elke dag en elke nag aanhoudend. Die koring is afgesny, gebind en in hope gepak, maar nêrens is nog mied gepak nie. Die uie is nog nie opgetrek nie, die pampoene lê ryp aan die ranke, maar is ook nog nie afgesny nie. Al sou dit ook nou ooptrek, kan jy nêrens in ’n land in nie. Brandhout raak ’n kwessie, want alles is nat. Gelukkig het my pa ’n taamlike voorraad gekapte hout in die blikhuis laat indra. Die vrouens wat met nat hout sukkel, is nukkerig. Die skoorstene rook en kort-kort val stukke roet uit die skoorsteen op die stoof. Dis ’n onplesierige besigheid. Die kinders is in hul ma’s se pad, want vir die eerste keer in ons lewens is ons uitgespeel. Jy moet nie eers die woord speel noem nie. Toestande het so haglik geword dat oom Andries Ryke van Joubertina vir sy vrou gesê het: “Ou vrou, die Bybel verseker ons die wêreld sal nie weer met water vergaan nie, maar dit lyk dan nou vir my die dinge loop weer soontoe.”
Die tweede week begin Klipdrif uit sy walle klim. Ons aan die duskant van die rivier is afgesny van die winkels, want aldrie winkels sit aan die anderkant. Waar nooit ’n spruitjie was nie, loop nou ’n yslike rivier. Al wat nog vir ons oorbly om te doen, is om ’n goiingsak om te hang en rivier toe te loop om te kyk hoe die water styg. Ons groot behoud is die jaar se verskillende soorte kos wat op die solder gestoor is en die pekel- en ander soorte vleis in die huis wat nog van die laaste varkslagtery oor is. Die tweede Maandag van die reën kom my pa by die huis en sê vir my ma sy moet vir ons kos en klere bymekaar sit, want ons sal uit die huis moet trek omdat Klipdrif se water met die grootpad langs nader kom huis toe. Pa het al met oom Lang Martiens gereël dat ons by hulle daar teen die rand gaan intrek. Oom Martiens is met Pa se jongste suster, Nellie, getroud. Die namiddag was my ma gereed en die kapkar het tot voor ons deur gekom. Daar het outa Zoeloe en outa Zoenk alles kom oplaai wat moes op en dit na oom Martiens-hulle geneem. Toe het hulle ons kom haal. Outa Stimbok het ons by oom Martiens afgedra huis toe. Die aand na huisgodsdiens het oom Martiens gesê ons sal nou nie meer baie lank kan uitstel om aan die ark te begin bou nie. Ons kinders wou dadelik weet waarmee ons die ark gaan bou.
’n Ander probleem begin nou ook kop uitsteek. Van die beeste en trekvee kom nie meer saans huis toe nie en ons pa’s vermoed dat die diere in die veld vasgeval het. Nou moet die mans as ’n span soggens seiltjies omhang, osrieme en sinkplate vat en in die veld na die vasgevalde diere gaan soek. As hulle so ’n dier opspoor, moet hulle die sinkplate rondom hom pak en dan daarop gaan staan terwyl hulle spook om die dier uit die modder te kry. Die stert was ’n handige plek om aan te beur en so is talle diere se sterte daardie tyd gebreek. Soms het dit ook gebeur dat die dier wat uit die modder gered is, net ien meter loop en dan weer vasval. Dit was, om die minste daarvan te sê, ontmoedigende wer. Saans as die mans by die huis kom, is hulle deurnat, half verhonger en driekwart verkluim. As hulle tuis kom, het die vrouens ’n sug van verligting geslaak, want hulle was bevrees dat die mans self ook kon vasval. ’n ander probleem was dat die mense se kruideniersware begin opraak het. My pa het gelukkig koffie en suiker by die sak gekoop en so kon hy darem die ander mense met hierdie twee items help. Op geen manier kon ons by ’n winkel uitkom nie, want die treinburg was teen dié tyd ook al weggespoel.
Op die vyftiende Januarie het die reën so met rukkies opgehou en die sestiende het ons vir die eerste keer daardie jaar son gesien. Die volgende dag was dit oopgetrek. Langkloof het in daardie twee weke oor die 500 mm reën gehad. Ons is maar weer rivier toe om na die water te staan en kyk. Daardie oggend kom daar ’n groot bloekomboom in die rivier af en in die boom sit ’n yslike bojaan. Hy sit stip na ons en kyk, kompleet of hy wil vra of ons dan nie ’n plan kan maak nie. As die boom rol, is hy onder die water. Sodra hy weer bokant die water kom, vee hy met die een hand die water uit sy oë. Hy’t seker nooit weer vaste grond onder sy voete gekry nie. Die oomblik toe ons met gemak op die stoppellande kon loop, is ons elke dag saailande toe om die gerwe koring te gaan afpak en op hulle koppe staan te maak sodat die koring kon droog. Hier en daar het ’n gerf se pitte al begin uitloop. Dit sê baie vir daardie hooppakkers dat baie van die gerwe nog bruikbaar was. Toe die gerwe en lande droog genoeg was, het ons begin gerwe uitry, mied gepak en gedors. Daardie jaar het ons so byna Langkloof se slangbevolking uitgeroei, want onder elke hoop het ons ten minste ses of sewe slange doodgemaak – alle soorte: skaapstekers, geelslange, boomslange, pofadders, nagadders en selfs die skaars kousbandjies. Die oes was ten spyte van alles, nie te sleg nie, maar die koring se gehalte was nie wat dit ander jare was nie. Ons skole het daardie jaar eers in Februarie geopen.
Die mense het na die vloed vertel van ’n ossewa wat op Nuwejaar uit die Kouga gekom het met ’n vrag koring wat by mnr. Reid se meule op Joubertina gemaal moes word. Toe die koring klaar gemaal was, het die man dadelik met sy terugtog begin, maar die aand toe hy afsak na Kouga se rivier en sien waar die water lê, het hy sommer hoog teen die kop uitgespan. Onder die wa het hy vir hom ’n stukkie kos gemaak, geëet en toe onder die bokseil gaan lê en aan die slaap geraak. Toe hy die nag wakker word, lê hy in die water. Dit was helder maanlig en toe hy onder die bokseil uitkruip, sien hy die water rondom die wa. Hy moes uitswem en teen die kop uitklim om weer op vaste grond te kom. Die wa met meel en semels is nooit weer gesien nie. Vir hierdie storie kan ek nie instaan nie, maar die ou mense van Kouga sweer daarvoor. Wat ek wel gesien het en ook gedoen het, was om palings in die grootpad dood te slaan.