Daar is mense wat nog nooit van Langkloof gehoor het nie. Dan is daar weer baie wat wel van Langkloof gehoor het, maar nie weet waar dit geleë is nie. Die eenvoudigste manier om vir hulle te beduie, is om te sê dat as jy van Kaapstad oor George ry, gaan jy oor die Outeniekwapas. Sodra jy oor die pas is, draai jy ooswaarts. Daar is die stasietjie Camfer geleë en sommer ’n klipgooi van Camfer is ’n dorpie met sy eie gemeente – Herold. Daar begin Langkloof. Nou ry jy maar voort ooswaarts en kry klein gemeenskappies soos Ganskraal, Molenrivier en Dieprivier (Noll). Later sal jy by Avontuur kom, een van die koudste plekke in ons land. Van Herold tot by Avontuur staan bekend as Bo-Langkloof. Van Avontuur ooswaarts kry jy gemeenskappies soos Haarlem, Ongelegen, Somerset’s Gift, Grootplaas, Nuweplaas, Louterwater, Krakeelrivier, die dorpie Joubertina, Twee Riviere en die spoorweghalte, Heights. Hierdie deel staan as Onder-Langkloof bekend. Kom jy egter van Port Elizabeth se kant af, ry jy oor Humansdorp. ’n Paar kilometer verder draai jy regs af oor Karreedouw en dan reg weswaarts tot by Heights en dan is jy in Langkloof. Ek hoop net diegene wat nie geweet het waar Langkloof is nie, sal dit nou maklik vind.
Die gemeenskappe in Onder-Langkloof, met die uitsondering van Heights, is redelik groot en elkeen het meer as honderd huisgesinne. Elke gemeenskap het vroeër ’n skool met drie of vier onderwysers gehad. Deur elke plekkie loop ’n rivier waaruit water vir besproeiing gehaal word.
Die kloof wat omtrent een tot vyf kilometer breed is, word gevorm deur die Outeniekwa-Tsitsikammaberge aan die suidekant en die Kammanassie-Kougaberge aan die noordekant. Die totale lengte is min of meer 160 km. Die hoogste piek in die Tsitsikammareeks is Piek Formosa, of soos ’n Langklower sou sê, “Piet van Moses.” Die piek het sy naam van Formosabaai, die Portugese benaming vir die huidige Plettenbergbaai, gekry. Die dorp Joubertina is na ds. W.A. Joubert vernoem en is op die ou erfpagplaas, Onzer, aangelê. Die gemeente is op 30 November 1907 gestig en sou eers Joubertsburg en kort daarna Joubertville geheet het. Die spoorwegowerhede het glo beswaar gemaak teen hierdie name aangesien daar in Colesberg se distrik ’n sylyn met die naam Joubert was. In 1909 het die sinode van die NG Kerk die naam Joubertina aanvaar.
Vanweë sy somerdonderstorms het Langkloof onder die ou Portugese seevaarders as “Land van Donderweer” bekend gestaan. Gedurende die somer is die weer lekker gematig en elke middag omtrent hier teen halfdrie, begin die mis oor die Outeniekwa-Tsitsikammaberge kook en daal tot byna onder teen die berg af. Dis ’n pragtige prentjie. Dan begin daar ’n lekker koel windjie waai waarna spottenderwys as Langkloof se “bankrotwindjie” verwys word. Die winters is ysig koud met ryp snags. Die reënval is nie hoog nie. Die somers is gewoonlik maar droog, maar die winters is nat.