Al het ’n kind ook hoe min tyd tot sy beskikking, vir kattekwaad maak hy tyd. En ons was deurentyd ingestel op kattekwaad. Waarom dit presies so was, weet ek tot vandag toe nog nie, maar twee datums het ons nie maklik laat verbygaan nie: 1 April en Guy Fawkes op 5 November. Vir daardie twee datums het ons behoorlik georganiseer. Dan was ons tot twaalf jong seuns bymekaar sodat ons genoeg mannekrag vir feitlik enigiets gehad het.
Die eikeboom waar altyd rieme gebrei is, het langs oom Giel Basie se huis gestaan. Dit was ’n reuseboom en in sy koelte het baie van oom Giel se gereedskap gestaan, onder andere die oom se nuwe Olivier-tweeskaarploeg. Een betrokke Guy Fawkes-aand was die ploeg ons teiken. Gewapen met genoeg nr. 8-draad en genoeg “geleende” osrieme het ons gewag dat dit stil word na donker om die ploeg in die boom op te hys. Die ploeg was nie so swaar nie, maar die ding was ongemaklik en die hysery het absolute spanwerk vereis. Aan die begin was ses man in die boom en ses man onder die boom. Toe die ploeg die lengte van die osrieme opgehys was, moes almal in die boom klim, die ploeg op ’n manier vasmaak, die rieme versit en van voor af begin ophys. Ons staanplekke was soms maar prekêr, maar ons was darem genoeg man om ’n ordentlike werk te doen. Die ophysproses is vier keer herhaal en toe is die ploeg behoorlik vasgemaak, die osrieme opgerol en ons het afgeklim. Ons het alle takkies en blare wat afgebreek het, opgetel en ons spore so goed ons kon, verwyder. Die ploeg was onsigbaar bo tussen die lowerryke takke.
Snaaks genoeg het oom Giel sy ploeg eers die derde dag gemis. Maar was dit ’n konsternasie! Die oom het oral gesoek en verneem of iemand dalk die ploeg sonder sy medewete kom leen het. Al wat vorendag gekom het, was die Olivier-ploeg. Toe is polisiehulp ingeroep. Ons was baie geknyp toe ons sersant Rousseau (pa van die akteur, Kobus Rousseau) op die toneel sien, want hy was nie ’n man om mee te speel nie. Tog het ons geweet dat hy ’n sagte plek vir ’n seun gehad het. Die polisie moes ook maar bes gee en die verdwyning van die ploeg het ’n duistere geheim gebly totdat die winter aangebreek het. Een na die ander het die ou akkerboom se blare grond toe gefladder en elke dag het ons gesien hoe die boom kaler en kaler begin word totdat ons selfs stukke van die ploeg kon sien. Uiteindelik het oom Giel se seun, Skilpad, eendag in die boom opgekyk en die ploeg sien hang. Hy’t sy pa gaan roep en gewys. Die oom was van sy taal af, maar baie bly om sy verlore ploeg terug te vind. Die oom het nie genoeg hande gehad om die ploeg te laat sak nie. Ons het dit vir hom gaan doen en toe hy ons wou vergoed, het ons dit bedank.
Een April Fool-aand moes my oom Naas dit weer ontgeld. Reg onderkant die oom se huis het die ou groot sinkstoor gestaan. Daarin is die dorsmasjien en ’n klomp ander gereedskap gebêre. Agter die sinkstoor het ’n ou skotskar gestaan wat in onbruik was. Ons het die skotskar tot styf teen die oom se voordeur getrek en die deurknop met draad behoorlik aan die skotskar vasgemaak. Reg voor die agterdeur het die ou soldertrap gestaan en die agterdeur se knop is weer daaraan vasgewoel. Oom Naas was nou ingeperk. Die oom het net twee dogters gehad en hy sou self met sy mank been deur ’n venster moes klim om ’n deur van buite af oop te maak. Toe my pa die oggend vir ontbyt kom, sê hy vir ons oom Naas sê van more aanhoudend: “Dit gaan maar krimineel.”
Al die huise op Twee Riviere het daardie tyd nog buite-latrines gehad. Oom Okker Hannie se latrine het so 50 m van sy huis na die vlei se kant toe gesit. Anderkant die vlei het die oom ’n groot uieland gehad. Een aand het ons sy sinklatrine opgetel en weggedra tot in die middel van die uieland en dit daar staan gemaak. Oom Okker was nie juis bekend as ’n man wat beheer oor sy emosies gehad het nie en hy het heeldag geloop en beduie hoe hy met die spul bokkers sal werk as hy hulle in die hande kry. Hy moes by oom Dries gaan mense leen om die latrine op sy plek te kom sit.
Outa Luikers (seker maar Lukas) was ’n tuiemaker. Hy het sy werksbanke in die sinkhuis gehad en het jaar in en jaar uit daar tuie gemaak en gerepareer. In plaas daarvan dat ons gekyk het hoe hy werk, het ons hom so getreiter dat sy nekare begin swel het as hy ons sien aankom. Die ou was werklik ’n vakman. Ongelukkig vir hom het hy ’n doodse vrees vir ’n skurwepadda gehad. Reg agter die sinkhuis het ’n stroompie geloop wat teen daardie tyd al so toegegroei met toue vir gerwe bind was, dat die water feitlik nie meer kon loop nie. Waar nog ’n oop poeletjie was, het die skurwepaddas in die lente by die hope gesit en kwaak. Daar het ons een naweek veertig van die goed gevang en in outa Luikers se laai onder sy werkstafel gesit. Die sinkhuis het nie deure gehad nie en ons kon in- en uitgaan soos ons wou. Ou Jan Bokwa het ons die Maandagaand vertel hoe outa Luikers tekere gegaan het en glad vir oom Gielie Olivier gaan roep het. Oom Gielie was baie kwaad en het die aand omgekom en met elke bywoner se seuns gepraat en ons beveel om outa Luikers in die toekoms met rus te laat. Nou ja, daarna was outa Luikers vir ons as ’n bron van vermaak verlore.