Oom Frik Ferreira het van Grootplaas na Twee Riviere getrek. Hy was ’n lewenslustige tipe mens en baie lief vir sport. Tussen Twee riviere en Heights maak die landskap ’n groot kom, die Opening, en hier het oom Frik, sy vrou en drie dogters, Maria, Dirkie en Judith, hulle kom vestig. Hulle was so ’n bietjie afgesonder, maar dit het hulle blykbaar goed gepas. Oom Frik het een uitstaande eienskap gehad – sy wonderlike liefde en belangstelling in diere, veral perde. Sy ma, ant Dirkie broer het gesê: Frikkie is op ’n perd se rug gebore.” Dit was ’n skouspel om te sien hoe hy ’n perd hanteer en as hy eers op ’n perd se rug geklim het, het hy deel van die perd geword. En kon hy ’n jong perd leer! Hy het sommer vir baie mense in die kloof hul perde geleer soos wat hulle wou hê. Hy’t nog net een keer in sy lewe van ’n perd geval en dit was juis toe hy op ’n jong perd se rug was en die buikgord gebreek het. Hy was nie skaam om te sê die perd wat hom gaan afgooi, is nog nie gebore nie.
Hy het ’n hele paar perde gehad, maar veral twee wat uitgestaan het en hemelsbreed van mekaar verskil het. Die een was so ’n vaal merrie waarmee hy resies geja het. Die ander een was Kanon. Ek wil graag Kanon se geskiedenis vertel. Oom Frik was een aand in ’n sirkus. Die sirkusbaas het ’n wilde perd gehad wat niemand nog kon ry nie. Die baas het ’n prys van £50 (R100) belowe aan die eerste persoon wat vir dertig sekondes op die perd se rug kon bly. Natuurlik het oom Frik die uitdaging aanvaar. Hy het die arena binnegestap en sy baadjie uitgetrek. Toe het hy die perd by die helpers oorgeneem, ’n hele ruk geneem om met die perd te staan en gesels, die perd so ’n bietjie gevrywe en gepaai en op sy gemak gekry. Die volgende oomblik was hy soos blits in die saal. Die perd het glo eers ’n paar sekondes doodstil bly staan en toe begin hy spring en kop tussen die bene steek. Die perd het elke kunsie wat hy geken het, uitgehaal, naderhand gaan lê met oom Frik. As hy gaan lê, dan staan oom Frik langs hom. Sodra hy weer opstaan, dan is die oom maar weer in die saal. Daar het naderhand ’n klokkie gelui om aan te dui dat oom Frik langer as dertig sekondes in die saal was. Maar oom Frik en die wilde perd was nog steeds met mekaar doenig. Op een tydstip het die perd agteroor geslaan met die oom, maar toe die perd se rug grond raak, toe staan die oom alweer agter hom. Toe hy opvlieg, is oom Frik weer stewig in die saal. Die perd het glo gespring tot die wit salpeterbolle op sy lyf uitgeslaan het en hy doodstil gaan staan en bewe het. Die skare het oom Frik staande toegejuig. Oom Frik het afgeklim, die teuels aan die sirkusbaas gegtee en gesê: “Meneer, enigiemand sal hom nou kan ry.”
Die sirkusbaas sê vir oom Frik: “Meneer, sulke ruitersvernuf het ek nog nooit aanskou nie. Ek is seker jy sou enige rodeo onder die cowboys kon wen. Kom haal jou geld na die vertoning in my kantoor.”
Na die vertoning stap die oom na die sirkusbaas en sê vir hom: “Meneer, ek wil nie die £50 hê nie, maar hier buite is ’n perdemerrie wat ’n rukkie gelede ’n vulletjie afgegooi het. Gee daardie vul vir my.”
Die baas wou weet hoe hy die vulletjie gaan grootmaak. Oom Frik sê vir hom dit sal geen probleem wees nie, want by hom op die plaas is ’n merrie wat twee dae tevore ’n dooi vul afgegooi het en hy sal die vulletjie aan die merrie laat soog. Die sirkusbaas het ingestem en oom Frik het gereël dat die vulletjie drie dae by sy ma bly om die biesmelk te drink. Daarna het oom Frik die spierwit vul gaan haal en daardie vul het Kanon geword, die grootste perd wat ek in my dag des lewens gesien het.
Kanon het oom Frik se drie dogters se speelmaat geword. Hulle het aldrie hul pa se liefde vir perde geërf. Oom Frik het Kanon geleer soos hy alleen dit kon doen en die drie meisiekinders het met Kanon gemaak net wat hulle wou en wanneer hulle wou. Hulle het onder die perd gaan lê, sy een been opgetel en die poot op hulle maag neergesit, hulle het van agter tussen sy bene deurgekruip en op sy rug manewales uitgehaal. Hulle het hom aldrie tegelyk gery. Dan kom ek op ’n Saterdagmiddag daar en kry hulle aldrie op Kanon se rug. Dan sal Dirkie nog vir my roep: “Kom klim op, hier’s vir jou ook plek.” En hulle trek Kanon langs die klipmuur sodat ek kan opklim. Hulle het nooit ’n saal op sy rug gesit nie, want van blinkers kry op Kanon se rug was daar nie sprake nie. (Blikners kry jy wanneer jy ’n perd bloots ry en sy rugstring skawe jou tussen die boude. As die skaafplekke begin genees, maak dit rowe. Dis pynlik as jy loop en dit kos jou met die een
hand jou boude van mekaar af hou. As jy dit nie doen nie, skuur die rowe af. Dit bloei en boonop brand dit soos vuur).
Oom Frik het nie juis geboer nie. Hy het sy paar perde aangehou, twee melkkoeie en ’n paar skapies. Verder het hy groentetuin gemaak. Die oom het ander mense help boer. Later het hy vir hom ’n selfbinder gekoop en teen vergoeding die mense se graan afgesny. Hy was baie trots op sy span trekgoed wat bestaan het uit Kanon. Dag in en dag uit, week in en week uit het Kanon perdalleen skynbaar moeiteloos met die selfbinder op enaf op die saailande gestap. Oom Frik was ’n legende op Twee riviere, maar daardie Knon, hy’t ’n groter legende as sy baas geword!
Oom Frik was nie lank op twee Riviere nie of hy organiseer ’n perderesies op Nuwejaar. Dit was ’n oop resies en elkeen wat gedink het hy het ’n ordentlike perd, kon inskryf. Die resiesbaan sou die grootpad wees, van oom Gielie se rollermeul tot by Sopieslaagte se hek, sowat twee kilometer. By die meule was nog ’n ysterhek oor die wapad. Dié sou toegemaak word ingeval daar dalk ’n verdwaalde motoris opdaag. Hy sou maar moes wag. Aan Sopieslaagte se kant sou twee man met rooi vlae twee honderd meter anderkant die eindpunt in die pad gaan staan om motoriste te stop. Oom Naas sou afsitter wees en die toeskouers sou die wenner aanwys. Na die resies sou die pad weer oopgesit word. Die resies sou stiptelik om nege-uur begin. Oom Frik en sy merrie was natuurlik daar, die oom in sy volle rymondering. Die oom was ’n frisgeboude aantreklike man en in sy rymondering was hy voorwaar ’n imposante figuur. Oom Krisjan buks, die man wat elke Oujaarsnag om twaalfuur drie skote met sy ∙303 in die lug afgetrek het om die Nuwejaar aan te kondig, het sy vosmerrietjie ook ingeskrywe. Daar was altesaam veertien inskrywings. Die afsit en die resies het sonder haakplek verloop. Oom Frik en sy merrie was sommer uit die staanspoor los voor, maar oom Krisjan Buks se vosmerrie kon self hardloop en van die eindpunt af kon ons duidelik sein dat die merrie hou waar sy het. Toe daar nog omtrent honderd en vyftig meter oor is, sien ons dat oom Frik sy merrie met die hakskene aanpor en sy merrie klop oom Krisjan s’n met drie lengtes. Nou moet ek dartem bysê, oom Krisjan is seker vyf en twintig kilogram ligter as oom Frik. Dit neem egter niks weg van sy merrie se goeie prestasie nie. N die resies wys oom Frik ons almal watter groot man hy werklik is. Nadat hy afgesaal en sy perd koudgelei het, stap hy na oom Krisjan, gee hom die hand en sê: “Krisjan, jy’t ’n bakgatmerrie. Dis die enigste perd waarteen my perd nog gehardloop het wat haar opgedreun het. As jy haar ooit wil wegmaak, onthou ek is eerste koper. En as jy met haar wil teel, sê ek nou hier voor almal as getuies, kan jy haar na my hings bring. Ek sal haar gratis vir jou laat dek, maar as ek jy was, sou ek nooit daarvan droom om haar te verkoop nie.”
Dit was vir ons almal ’n droewe dag toe oom Frik besluit het om met sy drie mooi dogters Tsitsikamma toe te trek. Die resies op Nuwejaarsdag het sommer ook doodgeloop en ons was minus die selfbinder en Kanon.