Vroeër jare was Nagmaal ’n groot geleentheid. Die mees afgeleë wyke van ons gemeente was Opkomst, Brandhoek en Braamrivier – die Kouga-mense. Met Nagmaal het hulle met hul ossewaens gekom en het die volle naweek en langer gebly. Gewoonlik het die waens die Vrydag deur Twee Riviere gekom en in die Kougaskamp op die dorp (Joubertina) loop uitspan. Hierdie Kougaskamp was ’n stuk grond net buite die dorp, naby die kerk waar ’n klompie van die Kouga-mense vir hulle tuishuise opgeslaan het. Daar het hulle en hul gesinne hulle dan vir die naweek ingerig. Die wat nie tuishuise gehad het nie, het hulle op hul ossewaens wat almal tente gehad het, ingerig. Maandae na Nagmaal het hulle al hul besigheid afgehandel, inkopies gedoen vir drie maande en Dinsdagoggend het die ossewaens weer deur Twee Riviere gerol terug Kouga toe. So het ons ons Kouga-maters meestal net elke drie maande gesien.
Ons en oom Lang Martiens se gesinne het ook vir die Nagmaalsnaweek Joubertina toe geskuif. Ons het gaan uitspan by oom Hendrik Ponsie, ’n halfbroer van oom Martiens en ’n broer van my ouma. Hy het vir ons woonkwartiere gegee. Die oom het ’n plasie teenaan die dorp gehad. Op die plasie was ’n wattelbos en soms het mense vir die naweek ook in die bos kom uitkamp. Dan het dit werklik na ’n jong laertjie op oom Ponsie se plaas gelyk. Oom Ponsie het twee seuns gehad, Michiel en Retief, en met sulke geleenthede het hulle die tyd behoorlik geniet. Hulle was twee onmoontlike rakkers en jy was nie altyd jou lewe seker by hulle nie. Michiel was al ’n harde knaap en sy grootste plesier was om ons jonger seuns se hoede te gryp, ’n lang slap wattelboompie se stam om te buig tot hy die top in die hande het. Dan breek hy die boonste puntjie van die boom af, hang jou hoed daaraan op en laat die stam stadig regop kom. Al manier waarop ons ons hoede kon tergugkry, was om klippe bymekaar te maak en te gooi tot ons ons hoed afgegooi het.
Met elke Nagmaalsnaweek was daar vyf eredienste. Saterdagmiddag was voorbereidings- diens, Saterdagaand was daar nog ’n diens en na die diens was die kerkraadsvergadering. Dit was die tyd dat die jongmense in die Kougaskamp so gevry het. Sondagoggend vroeg was daar ’n kinderdiens in die kerksaal en net daarna was dit die Nagmaalsdiens. Sondagmiddag was daar weer ’n diens saam met die doop en Sondagaand was dit nabetragtingsdiens. Ds. M. M. du Toit was seker poegaai na elke Nagmaalsnaweek.
Okkie S. was al uit die skool uit en het vlerk gesleep by ’n dogter van oom Jakob Beer van Opkomst. Hulle het mekaar net met Nagmaal gesien en het van elke tydjie gebruik gemaak om bymekaar te wees. Oom Jakob was ouderling en toe die diens die Saterdagaand verby is, sit Okkie met sy geliefde af Kougaskamp toe. Soos maar altyd die geval was, het die kamp daardie aand gewemel van die verliefdes. Oom Jakob se wa het op ’n lekker groen stukkie gras gestaan en om darem ’n bietjie privaatheid te hê, het Okkie en sy meisie onder die wa, reg agter die agterwiel, gaan sit. Hulle was nog besig om te vry, toe sien die meisiekind haar pa in die maanlig aankom wa toe. Die kerkraadsvergadering was verby. Al wat hulle nou kon doen, was om roerloos te bly sit. Die oom sou wel by sy tuishuisie ingaan. Maar nee, hy kom staan reg by die agterwiel waar hulle sit en begin om sy nood te verlig. Met die eerste splerts vang hy sy dogter mooi voor die bors, maar toe sy visier eers ingestel is, spuit hy vir Okkie van bo van sy skouers tot onder by sy voete waternat. Toe eers is hy in huis toe. Okkie was sopnat en die meisiekind staan en lag of dit die grootste grap van die jaar is. Toe hy sy hand in sy baadjiesak steek om himself met ’n sigaret te troos, vind hy uit dat sy baadjiesak driekwart vol is en sy sigarette en vuurhoutjies onbruikbaar. Die twee vryers het nooit weer bymekaar uitgekom nie, want Okkie was oortuig daarvan dat oom Jakob dit met opset gedoen het. En, sê hy: “Meisies is gesaai, nie geplant nie.”