Dis ’n drukkend warm dag teen die einde van Desember. Die kraaie gaap. Die lug is wolkloos en nie ’n blaartjie ritsel nie. Die grootmense geniet hul Sondagslapie. Ek en Okkie sit in sy pa se stoor se koelte met kleiosse en speel, maar dis te warm om regtig te speel. Oom Okker het klaar sy koring ingery en sy mied staan gepak, so omtrent vyftien meter van die stoor af sodat die dorsmasjien tussen die stoor en die mied ingetrek kan word. Dis skroeiend warm. Meteens hoor ons ’n geraas agter die stoor, iets wat ons nie kan verklaar nie. Ons spring op en hardloop om die stoor en toe sien ons ’n breë streep vlamme reg op die mied afkom. Okkie hardloop en gaan skree sy pa wakker. Die oom kom kaal bolyf en kaalvoet by die mied aan, draai dadelik om en gaan maak al die bure wakker. Teen dié tyd is die vlamme al rondom die mied. Binne ’n kwartier is al die bywoners behalwe oom Lang Martiens daar. Hy bly verder as die ander. Oom Gielie Bokkie Olivier aan wie die plaas behoort het, daag self ook daar op. Daar is niks wat ons kan doen nie. Ons moet maar net staan en kyk hoe die vlamme die mied omvou en wegbrand. Dit wat ons wel probeer, beteken net soveel soos melk ’n bul. Binne ’n halfuur is feitlik al Twee Riviere se inwoners daar rondom die mied. Toe is dit eers warm. Die sweet loop ons af. Oom Okker en ant Marja staan verwese en huil soos kinders.
Kort-kort sê die oom net: “My hele jaar se arbeid wat nou in vlamme staan.”
Oom Naas kom naderhand na oom Okker, sit sy hand op sy skouer en sê: “Toemaar Okker, die Here en Twee Riviere sal voorsien. Jy en jou hele huisgesin is gesond. Julle hoef julle oor niks te bekommer nie.”
Ons het almal gedink dat die mied binne drie ure sou uitbrand, maar daardie mied het meer as veertien dae gesmeul. Teen daardie tyd was die meeste mense klaar gedors en op oom Okker se solder en in sy stoor het twee en negentig sakke koring gelê. Die Here en Twee Riviere het voorsien. Soos ek gesê het, ons was bywoners by oom Gielie Bokkie wat die helfte van alles moes kry. Oom Okker gaan toe na oom Gielie en vra vir hom waar hy sy ses en veertig sakke koring wou hê.
Oom Gielie het net gesê: “Okker, my deel koring het saam met jou deel uitgebrand. By daardie twee en negentig sakke koring is nie een pit van my by nie. Dis joue.”
Oom Okker het al sy skuld van die jaar afgelos en boonop vir hom ’n netjiese kapkar en twee spogkarperde gekoop. Hy en ant Marja moes voorheen altyd met oom Dries saamry kerk toe.
So was Twee Riviere se mense. So ken ek hulle vandag nog. Hulle het saamgestaan. Dit was nooit nodig om ’n kollektelys te sirkuleer as daar nood was nie. Elkeen het sy plig geken en gedoen. Met tye van siekte of dood was daar altyd dubbel soveel helpers as wat nodig was. So was dit sewentig jaar gelede. So is dit vandag nog.