Ons was gelukkig om baie getroue en verantwoordelike plaasarbeiders te hê; veral die ouer geslag. Sommige van hulle was heelwat ouer as my pa en hulle het hom sommer op sy naam genoem, sonder die “baas”. Dit was nie weens minagting of gebrek aan respek nie; inteendeel, hulle het groot agting vir my pa gehad, want hy het hulle altyd eerlik en regverdig behandel. Hulle was werklik Christenmense wat nie verslaaf was aan drank of dagga nie. Ons ouers het hulle selfs die reg gegee om ons wit kinders te foeter as dit nodig sou word. En dit het ook dikwels gebeur!
Daar was outa Smit, so ’n lang geel kleurling, outa Kas, weer ’n ou klein donker mannetjie, outa Hendrik Skelie met sy skeel linkeroog, outa Piet Damon, outa Stimbok, outa Zoeloe en outa Pompie. Van hulle kinders het ook al by ons begin werk, maar hulle was nie naasteby van dieselfde stoffasie as hulle ouers nie, want die euwel van drankmisbruik, dagga rook en messteek was by hulle aan die orde van die dag. In daardie dae het die outas en aias en hulle kinders wat gewerk het almal uit die huis uit kos gekry. Dit is dus te verstane dat daar sommer groot voorsiening vir kos gemaak moes word. Op die solder is elke jaar ten minste honderd en twintig paraffienkiste patats gebêre saam met genoeg aartappels, uie, pampoene en koring. Geelwortels, beet en kool was deur die jaar uit die groentetuin beskikbaar. Droë boontjies en ertjies is elke jaar ruim gebêre, want hierdie mense het ’n besondere voorliefde vir sop en patats gehad. Daar het gereeld ’n vislorrie van Jeffreysbaai gekom met vars en droë vis wat ook ’n belangrike deel van hulle dieet was. Verskillende soorte vrugte is gedroog en gebêre. Met vleis moes ons egter ’n ander plan maak, want ons kon dit nie bekostig om vir almal vleis te koop uit die slaghuis nie. Daarvan sal ek later vertel.
Saans het die arbeiders by die plaashuis geëet. Na ete het hulle hul koppies en borde by die kraan gewas en dit in die rakkas voor die kombuis gebêre. Na aandete het hulle almal ingekom voorhuis toe en in ’n lang ry teen die muur gaan sit. Dan is daar huisgodsdiens gehou. My pa sou ’n gedeelte uit die Bybel voorlees en dan is ’n psalm of gesang gesing. Die arbeiders kon nie lees of skryf nie, maar die meeste bekende psalms en gesange het hulle geken. Ai, en kon hulle sing! Na die sang het my pa voorgegaan met gebed en dan kon enige outa of aia ook bid. Een so ’n gebed van outa Smit sal ek nie maklik vergeet nie. Die boerderytoestande was haglik. Dit was bitter droog en die leiwater was uiters swak. ’n Ramp het ons in die gesig gestaar. Outa Smit het begin om dankie te sê vir die afgelope dag se voedsel en gesondheid en gespaarde lewe en toe begin: “En nou, liewe Jirre, ’n ander saak. Dis bitter droog. Droësloot se water is al die helfte swakker en Koedoesevlei se water is net ’n ou pissie. Ag, liewe Jirre, al die aartappels en uie en pampoene is op Koedoesevlei geplant en soos wat ons vanaand hier sit, moet ons almal daarvan lewe. Laasweek kon ons nie eers alles natlei nie, want jy wil nog lei, dan is dit alweer Daan Salie se beurt. Assegrote- blief, Jirre, gee tog uitkoms. Moet ons tog seblief nie laat honger ly nie.” Toe ons opstaan, kon ek sien hoe my pa en ma trane uit hulle oë vee. Twee dae daarna het die uitkoms gekom. ’n Sagte suidoostereën het gekom en vir twee volle dae geval. Die riviere het geloop, die leiwater was sterk en die berge vol spierwit watervalle. Die droogte was totaal gebreek. En die volgende aand het outa Smit op ’n pragtige manier dankie gesê.
Outa Smit het ’n seun gehad – Toot. Of hy so gebore is, of hy geboortebeserings opgedoen het en of hy na sy geboorte seergekry het, weet ek tot vandag toe nog nie. Toot kon nie regop loop nie. Sy bolyf het ’n hoek van vyf en veertig grade met sy onderlyf gemaak. Hy was eintlik lelik met die vreeslike breë mond, groot plat neus, oë wat baie wyd uitmekaar gesit het, baie lang arms met ’n paar reusehande en ’n paar voete wat net in ’n “nommer twaalf met ’n voël” gepas het. Maar vir ons kinders was hy mooi, want hy was ons held. Hy was ’n paar jaar ouer as ons. Nie een van ons kon saam met hom hardloop nie. Nie een van ons kon ’n bal skop soos hy nie en nie een van ons kon sy gesig raakslaan as ons boks nie. Nie een van ons kon hom ondergooi as ons stoei nie. Net by een ding kon hy nie vir ons kers vashou nie en dit was swem. Seker vanweë sy misvormde liggaam. En ons was in die water net so tuis soos visse. Toot was ons groot vriend. Hy het nooit gewerk nie, maar het klokslag elke oggend saam met sy pa plaas toe gekom. Wanneer ons soggens skool toe stap, het Toot ons tot by Klipdrif vergesel. Namiddae na skool het hy ons op dieselfde plek ingewag. Nie een van ons het gewaag om ’n vloekwoord voor Toot te besig nie. Eendag het Okkie Hannie die Here se naam ydellik gebruik. Toot het tot voor hom geloop en gesê: “Kyk hierso, duusman, as jy weer daardie woord voor my sê, slaan ek al jou tanne uit jou bek. Dit sal lyk soos wanneer jou ma mieliepitte vir haar hoenders gooi.” Een oggend het Toot nie opgedaag nie. Outa Smit was ook laat. Na skool die middag hoor ons Toot is dood. Dit was ’n geweldige skok vir ons kinders. Ons, sy wit maats, het hom tot by sy graf gedra. Al ons ouers was teenwoordig. By die graf het ses volwasse bruin mans by ons oorgeneem. Daar het ons wit kinders ons harte uitgehuil en vir meer as ’n week is daar nooit gespeel nie. Toot was die een wat ons speletjies georganiseer het.