Deesdae se kinders het nie nodig om vir hulself vermaak te prakseer soos ons dit moes doen nie. Hulle het nie eers meer nodig om uit die huis te gaan om vermaak te word nie, dis sommer by hulle in die huis. Ons moes onsself op een of ander manier vermaak en dit was nie altyd veilige vermaak nie; inteendeel, dit was meestal lewensgevaarlik.
Die riviertjie bekend as Klipdrif loop van suid na noord reg deur Twee Riviere. Waar die wapad deur die rivier gaan, is ’n laagwaterbrug en onderkant die brug is ’n “sekelgat.” As ’n mens die rivier van die westekant af nader, is daar ’n taamlike steil afdraand. Hierdie afdraand was een van ons grootste bronne van vermaak. Daar het ons met ploegwielkarre resies geja. Aan die regterkant van die pad het oom Okker Grote se huis gesit. Sy stalle en krale was so gebou dat hulle ons nie van hulle huis af kon sien nie. Aan die linkerkant het oom Wessel Schreiber gebly en gelukkig vir ons het hul hoenderhok die uitsig na die pad toe versper. Nie lank nie of die ploegwielkarre is te mak na ons sin. Nou word motorbande en lorriebande ingespan vir die resiesjaery. Waar die afdraand begin, het jy pens en pootjies in die band geklim terwyl twee maats dit regop hou. Sodra jy lekker stewig in die band sit, word jy tot op ’n sekere streep gestoot en dan gelos. Die gedagte het nooit by ons opgekom dat daar ’n motor van voor af kon kom nie. Dit het wel ’n paar keer gebeur, maar gelukkig het die motoriste ons altyd gewaar terwyl hulle nog anderkant die laagwaterbrug was en dan kon hulle betyds stop. So ’n band hardloop teen ’n ongelooflike hoë spoed teen die afdraand af en menige keer het dit nie eers oor die bruggie gerol nie, maar sommer aan die linkerkant die brug afgefoeter en dan beland jy met band en al in die sekelgat. Jy is so dronk dat jy nie weet waar jy is of waar boontoe en ondertoe is nie. Dis net ’n wonder dat nie een van ons oorle Ouman se pad geloop het nie. Hierdie speletjie het aangehou totdat ’n motoris eendag so ampertjies oor een van ons gery het. Die man was woedend en hy sou ons seker lelik afgeransel het as hy ons in die hande kon kry. Oom Wessel het ons by mnr. Longland gaan verkla en hy het weer ons ouers ingelig. So is ons tog langs ’n groot omweg behoorlik afgeransel en van toe af was daardie vorm van vermaak taboe.
Oom Gielie Bokkie het ’n jerseybul gehad met die naam van Ou Suurveld. Die grootmense het gesê die bul is beneuk. Rooidoek het gesê hy’s heen en terug beneuk. Ou Suurveld was dikwels saam met ons koeie in die kraal. Hierdie kraal was regtig groot. Aan die een kant het dit aan die langhuis gegrens, ’n stoor wat 70 m lank was. Reghoekig teen die langhuis was nog ’n stoor van 20 m. Aan die voorkant was ’n stal, ook reghoekig teen die langhuis, dan ’n swaar ysterhek en dan weer ’n stal. Die deel wat nog oop was, was halfrond toegebou met ’n klipmuur, een en ’n halwe meter hoog. Sodra die kans hom voorgedoen het, het ons op die klipmuur geklim en vandaar Ou Suurveld se siel uitgetrek. Die kraal se vloer het altyd dik van die strooi gelê. As Ou Suurveld ver van ons af was, het een van ons afgeklim en gemaak of hy hom wou jaag en natuurlik skraap Ou Suurveld jou. Dan moet jy jou storie ken om betyds by die muur te wees sodat jy nog kan opklouter. Een van die manne het eendag in die strooi gestruikel en was nog besig om teen die muur uit te klim, toe Ou Suurveld hom stamp asof hy hom regdeur die muur wou druk. Ons was gou by en het hom aan sy arms tot op die muur getrek. Almal was asvaal geskrik, maar die mannetjie het gelukkig net ’n paar blou kolle opgedoen.
Oom Naas se oudste dogter, Hester, het ’n kêrel gehad wat van Walletjies af gekom het. Sy naam was Wessel Herselman. Soos gebruiklik daardie dae, het hy te perd kom vry. (Hierdie oom Wessel sou later die skoonpa word van Gerrie Berner, die tennisafrigter op Stellenbosch). Een Saterdagmiddag was ons weer met Ou Suurveld doenig. Oom Wessel het sy perd wat in een van die stalle gestaan het, kom versorg en daar aanskou hy die gedoente. Hy het ons pa’s gaan haal. Outa Pompie sou gesê het: “Alla werskaf, kyk hoe waai die kleingoed se nerwe.”
Ek wil graag ’n boerseun sien wat nie dol is oor ’n voëlrekker nie. Ons het egter bloedweinig voëls met die rekkers geskiet, want ons het ’n baie edeler doel vir ’n voëlrekker gehad – oorlog maak! Ons het darem nie met klippe geskiet as daar oorlog gemaak is nie. In die seisoen is klein vruggies soos pruime, appelkose, perskes en appels gebruik. As die vrugte te groot geword het, is suurvye gebruik, of enige iets wat sagter as ’n klip was. Onderkant ons huise was ’n groot lap renoster- en slangbosse wat ruig en hoog gestaan het. Dit was ons strydperk. Die seuns word in twee spanne verdeel en elkeen kies vir hom ’n generaal. Die een span gaan die bosse aan die noordekant binne en die ander span aan die suidekant. Dan bekruip hulle mekaar. Sodra iemand getref word, moet hy buitekant die “strydperk” gaan sit, want hy is doodgeskiet. So hou dit aan totdat een span se krygers almal doodgeskiet is. Dan kom almal bymekaar en ’n plegtige vrede word gesluit. By die huis moes daar baie rekenskap gegee word van groen kolle op ons klere, maar hoe sou ons nou weet waar dit vandaan gekom het?
Ons het nooit ’n kans laat verbygaan as ons die plaaswerkers kon treiter nie. Eendag kom ons op ’n groot geelslang af en met behulp van ’n mikstokkie vang ons dit lewendig. Iemand word gou huis toe gestuur om ’n stopnaald en stopgare te gaan haal. Okkie kon goed met ’n naald werk en hy naai die slang se bek lekker styf toe. ’n Streepsak word nader gesleep en die toebek-slang beland daarin. Die boere het altyd hulle uie in lang stringe aan die bome se takke opgevleg. Die werkers is juis hiermee besig. Hulle gesels vir die vale en steur hulle min daaraan toe ons tussen hulle inbeweeg. Die slang word ongemerk uit die sak geskud, maar hulle merk niks. Eers toe die slang tussen Piet Damon se bene deurseil en sy voorlyf oplig, gewaar hulle hom. Kyk, toe is daardie slang omgesukkel! Vanuit die werksmense se rigting is dit net een kreet op die ander en een vloek op die ander. Piet sukkel jou waarlikwaar om teen ’n gevlegte string uie uit te klim om uit die slang se pad te kom. Toe ons sien dinge gaan te ver, gryp een van ons die slang en gooi dit sommer voor by die bors in. Maar toe moet jy die lawaai hoor! Soos dit maar met alles gaan, het ook hierdie storie by ons ouers uitgekom en daar is natuurlik weer behoorlik met ons afgereken.
Voor die 1932-vloed was daar ’n groot saailand langs die oostelike oewer van Klipdrif. Gedurende die vloed is duisende tonne spierwit sand op daardie saailand uitgespoel en binne twee jaar was die hele stuk witsand toegegroei onder die wattelbome. Dit het ’n geliefkoosde speelplek geword. Nie ver van die oewer af nie het ’n reusedenneboom gestaan wat na die vloed gevrek het. Die boom het die lekkerste takke gehad om te klim. Om hierdie boom het ons ’n stuk nr. 8-draad omtrent twee meter bo die grond vasgebind. Die ander punt is na ’n ander sterk boom geneem wat op ’n gerieflike plek gestaan het. Voor ons die draad se punt styf getrek en om die stam vasgemaak het, is dit deur ’n stuk koperpyp gesteek. Die koperpyp het ’n gaatjie aan die een kant gehad waardeur ’n lang stuk vislyn gesteek en vasgebind is. Die een wat in die denneboom klim, vat die lyn en bind dit om sy lyf vas. Soos hy hoër in die boom klim, skuif die pyp oor die draad. As hy by die einde van die draad kom, maak hy die lyn om sy lyf los en trek die pyp tot by hom. Dan vat hy die pyp met albei hande stewig vas en spring van die tak af. Hy gly met ’n hengse spoed teen die draad af en vat eers tien meter van die boomstam af grond. In daardie tien meter moet hy omtrent rem aanslaan dat hy hom nie teen die boom se stam te pletter loop nie. Terwyl hy daar teen die draad afgly, gil en skree hy soos deesdae se jongmense wat met toue van hoë brûe af spring.
Die enigste spelietjie wat sonder gevaar was, was rotte doodmaak. Dit was in elk geval meer werk as speel, maar ek glo nie ons het ’n speletjie meer geniet nie. Oom Gielie Bokkie het vreeslik baie buitegeboue, elkeen met ’n solder, gehad. Voordat die laaste solder nie tjokvol hawergerwe gepak was nie, het oom Gielie nie ’n enkele baal hawer gepars vir verkoop nie. Ek sal nooit die ondraaglike hitte gedurende die somermaande op daardie solders vergeet nie. Waar wil jy nou ’n beter broeiplek vir ’n rot kry as juis so ’n solder vol hawer? Die goed teel geweldig vinnig aan. In die wintermaande gebeur dit dikwels dat Langkloof ’n suidoostereën kry wat ’n paar dae duur. Dan loop Klipdrif bo-oor die laagwaterbrug en ons kan nie by die skool kom nie. Dis dan wanneer die seuns opgekommandeer word vir die jaarlikse rottedoodslaan. Die plaaswerkers is ook by. Oom Gielie mis dit vir geen geld ter wêreld nie. Die “jagtog” word baie deeglik georganiseer, want geen rot mag ontsnap nie. Elke man het ’n slaanding na sy smaak. Die hawer word van die een kant af teruggepak. Daar word probeer om ’n spasie van twee of drie meter tussen die teruggepakte gerwe en die wat nog op die oorspronklike plek staan, oop te hou. ’n Man moet darem beweegruimte hê. Elke rot wat uitspring, word vrek geslaan en uitgegooi. As die hawer wat nog oorgepak moet word, begin min raak, stroom die rotte al dikker uit en dit kos net bontstaan om almal by te kom. Aan weerskante van die muur word ’n stukkie geut, omtrent twee meter lank, neergesit. Die een punt word in ’n streepsak gesteek en toegebind. Hope van die rotte wat uitspring, kies die pad na die geut en beland in die streepsak. Ander vind hulle pad in die grootmense se broekspype op. Dis ’n grillige affêre om ’n rot in jou broekspyp te hê. Hoe hy onder die lyfband deurkom, weet ek nie, maar baie rotte is voor ’n man se bors of agter die rug doodgeslaan. Al die solders word deurgewerk. Aan die einde van een so ’n dag het oom Gielie die dooie rotte in paraffienkissies laat bymekaarmaak – ses kissies vol!