Omdat daar geen openbare vervoer was nie, moes die kloof se produkte met transportwaens Baai toe gekarwei word. Om so ’n vrag goed in die Baai af te lewer en weer terug te kom, het gewoonlik twee weke in beslag geneem. Die ryke bron van stories wat om hierdie togryery ontstaan het, het ons kinders saans vir ure voor die Doverstoof geboei. Dan moes oom Naas (Boland) Kemp dit nog vertel, want hy was touleier met die togryery. Ek wil net kortliks melding maak van een so ’n verhaal omdat dit my getref het dat oom Naas Boland en oom Naas Wit Andries, Pa se oudste broer, se storie in elke opsig ooreengestem het.
In 1870 het ’n sekere M. J. Olivier van Twee Riviere met ’n vrag produkte Baai toe vertrek. Wat gebeur het, kon niemand sê nie, maar by Kabeljousrivier trap die wa Olivier se drywer dood. Olivier moes glo die lyk na Gamtoosrivier saamry sodat die veldkornet, ’n Van Niekerk, die lyk kon sien voordat dit kon begrawe word. Daar is die lyk onder ’n doringboom begrawe. In dieselfde jaar gaan twee blankes en twee kleurlinge met twee waens Baai toe en hulle kom in helder maanskyn by die boom aan. Die een witman sê vir die ander: “Daar is die bos waar Olivier sy drywer begrawe het.” Meteens verskyn daar ’n gedaante by die boom en hy kom na die voorste wa toe. Die touleier sou glo vir die gedaante gesê het: “Gaan eet appels en pere.” Die gedaante gaan toe na die agterkant van die wa en steek sy hand onder die seil in soos iemand wat iets uithaal. Toe hardloop hy terug na die boom en al om die boom waar ’n rookdamp hom omhul het en hy bo die boom uitgestyg het. Toe begin daar ’n gehuil wat klink na klokkies wat gelui word en naderhand ’n droewige gehuil en ’n stem wat roep: “Wat is in die bos? Wat is in die bos?” Oom Naas Wit Andries sê hy het nooit weer iets daar gesien nie, maar die gehuil en die geroep het hy weer by ’n paar geleenthede gehoor.
In 1907 is die smalspoorroete tussen die Baai en Avontuur geopen en die togryery het doodgeloop. Die spoor is min of meer 280 km lank. Daar is ’n magdom stasies en sylyne waar stilgehou moes word sodat dit eintlik maar stadig gegaan het. Die trein het darem altyd ons produkte veilig en boonop vinnig in die Baai besorg in vergelyking met die ossewa. As ’n mens wou sien watter bate daardie treintjie vir Langkloof was, moes jy maar net een namiddag op ’n sylyn gaan staan en kyk hoe die lorries en die motorwaentjies met hulle vragte toustaan om hulle produkte in die trokke te laai. Soms het dit so dik gegaan dat genoeg trokke nie beskikbaar was nie. Gedurende die vrugteseisoen moes daar aldag meestal vyf treine loop.
Ek wil graag iets sê van die personeel wat daardie treintjie bedien het. Ons het feitlik elke drywer, stoker, laaimeester of rangeerder geken. Hulle was net so deel van Langkloof as die van ons wat daar gebly het. Hulle het die kloof net so liefgehad soos ons. Oom Tom Viljoen was so ’n ou kort kondukteurtjie met ’n groot weglêsnor. Hy is eenkeer bevorder tot inspekteur op die hooflyn. Hy het summier bedank daarvoor en aan sy hoofde gesê as hy van die smalspoor afgehaal word, bedank hy sy werk. En hy is op die smalspoor dood. Daar was ook manne soos mnr. Claassen, ons jaarlikse laaimeester, Jimmy Enslin, ’n kondukteur, en die drywers, Johannes Dorfling en mnr. Meyer. Dis almal mense wat met hulle trein diep spore in Langkloof getrap het. Hierdie mense het die heerlikste kos voor in die lokomotief gemaak. As jy saam met die trein ry en jy kry lus vir koffie of tee, kon jy op ’n stasie of sylyn na die lokomotief stap en in ’n kits het jy ’n lekker vars koppie koffie of tee gehad. As mnr. Meyer die dag op die lokomotief was, kon jy sommer van ver af sien Meyer is weer op die lokomotief. Hy het daardie koffieketeltjie laat hardloop soos geen ander nie. So het dit twee keer gebeur dat hy die trein om die draaie tussen Krakeelrivier en Joubertina laat ontspoor het. Die smalspoortrein se passasierswaens het nie gange gehad waarlangs die kondukteur kon loop as hy wou kaartjies knip nie. Eerder as om tussen die kompartemente oor die mense te val, het hy dan buitelangs op die loopplank van die wa geloop. By die kompartement se deur het hy sy elmboë aan die binnekant van die deur gehaak en kaartjies gevra en geknip. So gebeur dit eendag dat ek op die trein is tussen Joubertina en Krakeelrivier. Oom Tom kom op die loopplank langs om kaartjies te knip. ’n Seun saam met my in die kompartement wil ewe galant die deur vir hom oopmaak. Die deur swaai oop, oom Tom se elmboë verloor hulle greep en die oom val langs die spoor. Ek dag oom Tom is dood. Die drywer het gewoonlik dwars op sy sitplek in die lokomotief gesit en toe hy sien oom Tom val, hou hy dadelik stil. Oom Tom staan op en kom stadig nader gestap. Ek dag by myself: “Vanmôre kom hier groot neukery.” Die oom het net gesê: “Jou klein bokker, ek kom Maandag weer met die trein verby. As daar nie vir my ’n kissie appels op die stasie is nie, rapporteer ek jou aan die polisie.” ’n Week daarna is ek weer saam met oom Tom op die trein en ek vra hom of hy sy kissie appels gekry het. “Nie net ’n kissie appels nie, ook ’n kissie pere, albei vir uitvoer gepak,” was sy antwoord.