Ek twyfel of daar ’n streek in ons land is wat soveel spoke soos Langkloof gehad het. Feitlik elke hek en elke hoek het sy spook gehad. En dan was daar natuurlik nog etlike huise waar dit ook gespook het. Nee, regtig, Langkloof het letterlik gewemel van die spoke. Ek moet lieg as ek sê dat ek ooit een van die spesie teëgekom het. Of ek aan die goed glo of nie, maak seker nie ’n verskil aan die stories nie. Omdat ek nog nooit ’n spook gesien het nie, gaan ek nie sê dat daar nie sulke goed bestaan nie. Daar is immers baie dinge wat ek nog nooit gesien het nie, wat wel bestaan.
In ons tyd het ons snags baie rondgeloop. Van my maats het soms groot geskrik en gegil en was op die punt om voet in die wind te slaan wanneer ek hulle vang en vashou – nie omdat ek bang was nie – maar omdat ek ’n vrot hardloper was. Dan vertel hulle agterna daar was ’n afkopman of ’n swart figuur by ons. Ek het nooit iets gesien nie. Wat wel gebeur het wanneer ons snags te perd gery het, was dat die perde om geen skynbare rede nie, begin spring en snork het en geweier het om te loop. Dan het ons maar afgeklim, die perde ’n ent gelei en weer opgeklim. Een nag het ek tot dagbreek toe water gelei op Koedoesevlei. Toe die leibeurt om was, het ek huis toe gestap. Op ’n sekere draai kom ek op ’n kar, ’n ou Lafayette, af wat op sy sy teen die draadheining lê. Langs die kar staan ’n verwese, verdwaasde man. Hy het nie seergekry nie. Hy vertel dat toe hy om die draai kom, ’n man reg voor die kar ingestap het en hy bo-oor hom gery het. Toe hy egter uit die kar kruip en na die man begin soek, is daar absoluut niks nie. Ek vertel toe vir hom dat verskeie mense al gesê het dat hulle snags op daardie draai ’n persoon gesien het wat onmiddellik weer verdwyn het.
Wat ek wel by ’n paar geleenthede gesien het, was die lig wat elke Februarie vir Twee Riviere op horings geneem het. Die ou mense het gesê dis die “dwalende Jood.” Dit sou kastig hy wees wat die spykers by die kruisiging deur Christus se hande en voete gekap het en wat nou nie rus vir sy siel kon kry nie. Ek is nie so seker dat dit ’n Jood was wat die spykers ingekap het nie. Wat my betref, kon dit eerder ’n Romeinse soldaat gewees het. Hoe dit ook al sy, waarom hy dan nie in sy eie land dwaal nie en waarom hy juis Twee Riviere uitgekies het om sy dwalery voort te sit, bly vir my ’n duistere saak.
Een aand het ’n groepie studente van Stellenbosch ’n konsert in die kerksaal op Joubertina opgevoer. Omdat ’n klomp van die plaas se jongmense daarheen wou gaan, het Derrick sy pa se Dodge-lorrie gevra vir die rit. Die weer was dreigend en ons het die lorrie se tent opgesit. Daar was altesaam twee en dertig van ons wat konsert toe is. Toe die konsert uitkom, stort die reën neer asof dit met emmers gegooi word. Die ou Dodge se kajuit was breed en behalwe Derrick, sit oom Thysie Salie, sy vrou, Hannie, en ekself voor. Die pad was berug as ’n gevaarlike entjie pad. Die afdelingsraad het die oppervlak met potkleigrond bedek. As dit droog is, het jy ’n mooi blink oppervlakte, maar as dit reën, is die pad so glad soos seep. Toe ons Sandlaagte nader, sien ons ’n kar van voor af kom. Oom Thysie waarsku Derrick om versigtig te wees. Toe ons weer sien, is die kar weg uit die pad en tot ons verbasing kom die lig nou uit die veld aan die linkerkant van die pad reg op ons af. Derrick hou stil en twee en dertig mense kyk hoe die lig twintig tree voor ons oor die pad gaan. Ons sit die affêre en dophou en meteens is die lig weg en dis weer aan ons linkerkant, dié keer op die treinspoor in die rigting van Heights. Wetenskaplikes het vir ons kom vertel dis moerasgas wat so neuk. Wat dit was, weet ek nie, maar vir my sal hulle ’n ander verklaring moet gee. Daardie moerasgasstorie – ek glo hom nie!
Een aand gedurende boekevattyd staan ons voordeur oop. Ek sit so dat ek oor die onderdeur buitentoe kyk. Terwyl Pa uit die Bybel lees, sien ek die lig van die treinspoor se kant af naderkom na ons huis toe. Toe die lig so honderd meter van die huis af is, sê ek vir Pa hy moet eers ophou lees. Hy is natuurlik baie verbaas en ek beduie hom na die voordeur. Daar het ons hele gesin gestaan en kyk totdat die lig verdwyn het en weer op die treinspoor uitgeslaan het. My pa sê: “Jy weet natuurlik niks van wat ek gelees het nie.” Ek antwoord bevestigend. “Nou ja, ons gaan weer lees en hierdie keer luister jy.” Toe ons kniel terwyl Pa bid, het ek nie vir ’n sekonde my oë toegemaak nie.
My oom Fanie was ’n uiterste platjie. Dit was vir hom te lekker om mense bang te maak, veral as hulle bietjie grootbek was. Een Desembervakansie kuier daar juis so ’n grootbekvent uit die Baai. Oom Fanie het sy mes vir hom in. Onder die groot akkerboom onderkant Oupa se huis, staan ’n ou ossewa. Op die wa staan ’n doodskis met ’n lyk. Die kis se deksel is net so effens skuins gesit sodat die lyk die koel naglug kan kry. Na aandete gaan ’n paar van ons jongmense ’n entjie stap. Die grootbekkêrel is ook by. Dis ’n lieflike maanligaand. Met die terugkom, daag oom Fanie die grootbek uit om op die doodskis te gaan sit. Ewe flink spring hy op die wa en plak hom op die kis neer. Oom Fanie sê hy moet die kis se deksel oopmaak. Hy doen dit en daar kyk hy die lyk vierkantig in die oë. Die volgende oomblik foeter hy van die wa af, maar ek twyfel of hy ordentlik grond gevat het. Ons het hom later doodsbleek en bewend in die buitekamer aangetref.
By my pa het ook ’n grootbek met die naam van Niklaas gewerk. Hy was anders as die ander werksmense en hy wou ook nie tussen hulle bly nie. Hy het vir hom ’n kaia op die Witsand aanmekaar getimmer en daar het hy gebly. Oom Fanie kon hom nie verdra nie en het voorgestel dat ons hom “regsien.” Niklaas het ’n hond genaamd Fido gehad. Fido het oral agter hom aangeloop. Ek en die hond was groot vriende en ek het altyd ’n been of iets vir hom gebêre. Oom Fanie was ’n baasbeplanner en eendag sê hy vir my ons moet Niklaas deur sy hond “regsien.” Niklaas het by ’n dogter van een van oom Okker se werkers vlerk gesleep. Een aand toe Niklaas na sy huis loop, hou ek Fido agter. Oom Fanie trek ’n streepsak oor Fido, knip ’n gat vir sy kop en vir elke poot met ’n skaapskêr en draai die streepsak styf om sy lyf met seilgare. Intussen trek ek Fido se aandag af deur hom met stukkies eetgoed te voer. Hy’s ewe gedwee. Toe die streepsak mooi vasgedraai is, bind die oom ’n ou beesstert agter aan die sak vas. Hy’t twee leë tabaksakkies vol houtwol gestop en dié word aan die kop vasgewoel vir ore. Ons het nou ’n soort dier wat niemand nog ooit gesien het nie. Dis nie ’n mooi gesig nie. Ons loop saam met die hond tot naby Niklaas se huis. Toe Niklaas die aand uit sy kaia kom om vir sy noi te gaan kuier, val Fido agter hom in. Niklaas is salig onbewus van die ding agter hom. Toe hy later van die noi af vertrek, sit Fido hom weer agterna. Dis toe dat hy die ding gewaar. Hy begin hardloop, maar hy kan nie voorbly nie. Nou is die ding agter hom en dan weer voor. So hou dit aan tot kort by sy huis en daar neem die hond die voortou, reguit kaia toe. Die volgende oggend vroeg het oom Fanie Fido se mondering gaan afhaal en onder die sand begrawe. Niklaas het ons self van sy wedervaringe vertel. Hy sê toe hy by sy kaia kom, lê die ding hom voor sy deur en inwag. Hy kon glad nie by sy huis inkom nie en hy moes die nag in die sipresboom ’n ent van sy huis af, slaap. Van daardie aand af het Niklaas ’n pellie saamgeneem as hy gaan vry. Die beste van alles was dat die pellie uiteindelik die noi van hom afgevry het en met haar getroud is.
’n Tienderjarige meisie, Foent, is skielik oorlede. Daar was ’n oompie wat in so ’n geval sommer ’n doodskis van vloerplanke gemaak het. Hierdie oompie was klein van postuur, maar ’n ware onnut. Hy is gevra om ook Foent se kis te maak. Die volgende oggend sou twee familielede die kis kom haal. Die kis is gereed onder ’n boom waar ook ’n vervalle ou ossewa staan. Die oompie sien die twee man aankom, gaan lê in die kis en trek die deksel op. Die kis is nie baie dig nie en hy kan mooi na buite sien. Hy sê toe die twee man aan die kis vat en voel daar is iets binne-in, sê die een: “ Ou broer, hulle het haar sowaar al gekis.” Hulle staan ’n entjie agteruit en haal ewe eerbiedig hul hoede af. Toe vat hulle die kis en tel dit op hulle skouers. Die oompie sê dis op daardie stadium dat hy so ’n lang sug uitstoot. Ongelukkig het hy sy tyd baie swak gekies, want dit was net toe dat hulle oor die wa se disselboom getree het. Hulle los die kis net so en die ou val met kis en al dwarsoor die disselboom. Die kis is uitmekaar en twee van sy ribbes is gebreek. Die oompie sê toe hy uit die kis kruip, verdwyn die twee “draers” net mooi in die Santa Rosa-boord.
Die Langklowers vertel my dat daar sedert 1940 bloedweinig spoke in die kontrei te vinde is. Hulle skryf die verskynsel toe aan die motorkarre wat sedert daardie tyd so toegeneem het en snags heen en weer deur die kloof ry!