Hier in die vroeë veertigerjare besluit ’n paar boere om met Royal-appelkose op droëland te eksperimenteer. Daar was reeds ’n hele paar appelboorde met groot welslae op droëland aangelê, veral die variëteite Ohenimuiri en Granny Smith. Die manne wou graag hul appelkoosboerdery uitbrei, maar leiwater was soms skaars. Hulle reken toe dat as ’n appelboom ’n oes op droëland gee, hoekom kon ’n appelkoos dit nie ook doen nie? Hulle sou teen die noordelike hange van die kloof probeer. Dis goeie lekker koel grond. Oom Klein Johan en Giel Okker Dail is die twee man wat die eerste aanplantings doen. Elkeen plant ’n taamlike groot boord aan. In die lente toe die boompies begin bot, gewaar hulle daar is ’n snaakse plaag in die boorde. Sodra die lote ’n paar duim uitgespruit het, verdwyn hulle weer onverklaarbaar. Dit neem hulle nie lank om uit te vind wat die fout is nie. Dis kolhase en grysbokkies wat die botsels snags so afwei. En as so ’n boompie ’n paar keer afgevreet is, staan hy stil en wil nie verder groei nie. Ek dink die Oosterlinge het hulle bonsaikuns by die kolhase geleer. Daar moes dringend ’n plan gemaak word as die manne hulle boompies wou red.
Daardie Septembervakansie kom ek huis toe en my pa vertel my van die kwessie. Ek vra vir oom Klein Johan verlof om in die nag in sy boord te gaan hase skiet. Hy lag my uit en sweer hoog en laag dat ek nie een haas so sal doodkry nie. Ek gaan nogtans en die eerste aand skiet ek elf kolhase en ’n grysbokkie, almal binne-in die boord. Toe ek die oom die volgende oggend gaan haal om te kom kyk na die goed wat op ’n ry aan ’n draad hang, kon hy sy oë nie glo nie. Hy sê ook sommer prontuit hy sal dit nie glo as hy dit nie self sien nie. Ek bring dit onder sy aandag dat ’n mens ’n permit moet hê om in die nag te jag. Hy sê dis nie ’n probleem nie, hy sal een kry. Daardie aand was ons net klaar met boekevat, toe klop hy aan die voordeur. Hy het die permit, ’n pakkie •22-koeëltjies en ses flitsligbatterye by hom en hy wil dadelik loop. Ek sê vir hom dis bietjie vroeg en ons versuim nog ’n rukkie in die huis. Daardie aand skiet ek weer nege kolhase. Oom Johan is vreeslik in sy skik. Net gou hoor oom Giel Okker Dail dat oom Johan nou ’n raad teen die kolhase het. So ontstaan daar twee jaggroepe op die plaas en daar sal twee keer per week gejag word.
My oom Fanie, oom Stephen Smith en ek is in een span. Roelf en Willem en nog twee ander manne is in die ander span. Ons arbeiders is almal gek na haasvleis en hulle presenteer ons ’n sjieling (10c) vir elke haas wat ons bring. Nie lank nie of jy kry feitlik nie meer ’n haas in die boorde nie. Dis toe dat die saailande ook sommer in ons jaggebied ingesluit word, want, redeneer die manne, haas se kind sal tog maar weer van die saailande af boorde toe kom. Die hase wat ons skiet, word op maklik herkenbare plekke neergesit en met die terugkom word een vir een opgetel en in ’n suikersak gegooi. So word dit aangedra huis toe vir die werkers. Oom Fanie het ’n onfeilbare instink gehad om presies na elke dooie haas te loop en dit in die sak te gooi. Maar een aand met die terugkom kon ons nie een van die hase kry nie. Dit het oom Fanie nie lank geneem om agter die kap van die byl te kom nie. Hy het dadelik besef dat een van die ander span se manne in die donker agter ons aangeloop het en ons hase opgetel het. Toe ons bymekaar kom, wil hulle hulle siek lag omdat ons met ’n leë sak loop en hulle dra twee sakke. By die huis gekom, wou ek by oom Fanie weet wat ons in die toekoms gaan doen. Ons kon tog nie die goed met ons saamdra terwyl daar nog geskiet word nie. Hy sê ek moet my nie bekommer nie, volgende keer sal hy elke haas wat ek geskiet het, tussen hulle hase uithaal. Drie aande later is dit weer so. Die ander span dra dat dit bars en ons loop met ’n leë sak. Toe hulle die sakke by die huis uitskud, bedank oom Fanie hulle dat hulle ons hase vir ons huis toe gedra het en hy begin elke haas deurkyk. Hy gooi sewe hase eenkant toe. Aan hulle kant bly net twee hase lê. Hulle stry dat dit klap en sê al nege hase is hulle s’n. Oom Fanie lig die sewe hase se sterte op en vra vir hulle of hulle hase miskien vuurhoutjies in hulle dingese het. En toe sien hulle. Oom Fanie het onder elke haas se stert ’n vuurhoutjie ingedruk sodat net die swawel uitsteek. Daarna moes oom Fanie en oom Stephen weer ons hase huis toe dra.
Die appelkoosboorde op die droëland was ’n groot sukses en ons het pragtige appelkose daar gepluk en baie daarvan is uitgevoer. Die twee jagpartye het die kolhaasbevolking so uitgedun dat die manne wat later aangeplant het, geen probleme gehad het nie.